Nuus 13:00
BULLETIN 14 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mbalula sê kleiner partye is deel van SA se grondwetlike demokrasie
# Rand Water hervat môre omvattende onderhoud aan sy infrastruktuur wat water aan Tshwane verskaf [KLANK]
# En, tennis: Alcaraz droom van ‘n Wimbledon oorwinning en ‘n sege vir Spanje by die Euro 2024 kampioenskappe
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê Suid-Afrika is ‘n grondwetlike demokrasie en enigiemand kan ‘n politieke party stig en aan verkiesings deelneem. Mbalula sê die beweging kan dus nie kla oor al die klein partye wat gestig is om die ANC uit te daag nie. Hy het op die MyANC-kanaal gesê dit is die ANC se plig om sy lot te verander en nie na andere te kyk nie:
# Rand Water se omvattende onderhoudswerk aan sy Palmiet- en Mapleton-stelsels, wat water aan die Stad Tshwane voorsien, word môre hervat en sal na verwagting op 29 Julie afgehandel wees. Die stad se woordvoerder, Selby Bokaba, sê die onderhoudsprogram van die twee stelsels het vroeër die maand begin en was suksesvol. Dit het ook nie tot enige watertoevoer-onderbrekings gelei nie:
# Die EFF in Gauteng sê hy is baie bekommerd oor die provinsiale Departement van Maatskaplike Ontwikkeling se voortdurende verwaarlosing van welsynsorganisasies wat na kwesbare lede van die gemeenskap omsien. Nkululeko Dunga van die EFF sê die organisasies ervaar teistering en die besnoeiing van fondse van die regering. Die party eis ‘n einde aan die traak-my-nie-agtige houding en doen ‘n beroep op die nuutaangeselde LUR, Faith Mazibuko, om die veiligheid van mense bo die departement se twyfelagtige bedrywighede te stel.
# ‘n Strateeg van die Amerikaanse Republikeinse party, John Thomas, sê die sluipmoordpoging op die presidentskandidaat, Donald Trump in Pennsilvanië is ‘n “oomblik van eenheid”. Thomas het aan Sky News gesê dit sal Trump waarskynlik tot ‘n “totale oorwinning” in November aanvuur. Hy sê mense oral in die land staan bankvas agter Trump, of hulle van hom hou of nie. Thomas prys die voormalige president vir die vuis wat hy omhoog gehou het na hy op ‘n verkiesingsaamtrek in die oor gewond is en “veg, veg, veg” gesê het, want hy het die grootsheid van die oomblik besef.
# En, tennis: Carlos Alcaraz sê hy hoop om tot ‘n perfekte dag vir Spanje by te dra met ‘n oorwinning oor Novak Djokovic, gevolg, as hy sy sin sou kry, deur ‘n triomf vir die Spaanse sokkerspan teen Engeland in die Euro-2024 kampioenskappe in Duitsland. Die 21-jarige kampioen kom op Wimbledon se hoofbaan teen die sewemalige kampioen Djokovic te staan, ‘n herhaling van verlede jaar se eindstryd. Alcaraz is ‘n passievolle aanhanger van Real Madrid en was in kontak met Spanje se spelers tydens die Euro 2024 kompetisie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….