Nuus 09:00
BULLETIN 14 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Vier kinders sterf in ‘n huisbrand in Limpopo
# Biden veroordeel ‘siek’ sluipmoordpoging op Trump
# En, rugby: die Cheetahs gee die Westelike Provinsie in Bloemfontein slae
# Vier kinders tussen die ouderdomme van drie en elf is dood toe hulle huis in die Calais-dorp in Maake, Limpopo aan die brand geslaan het. ‘n Polisiewoordvoerder, Malesela Ledwaba sê beamptes is laat Vrydagaand na die toneel ontbied en het gemeenskapslede aangetref wat probeer help het. Hulle het daarin geslaag om die kinders uit die huis te kry, maar Ledwaba sê ondanks die vinnige reaksie van nooddienste, het die kinders ongelukkig weens die brand beswyk.
# Die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramakgopa, sê energie en elektrisiteit is die groot albatrosse wat die Suid-Afrikaanse ekonomie kniehalter. Ramakgopa het by die eerste kabinet-legotla van die regering van nasionale eenheid by die Sefako Makgatho presidensiële gastehuis in Pretoria gepraat. Hy sê die armes en mense wat in informele nedersettings woon vind dit uiters moeilik om die hoë elektrisiteitspryse en kragtariewe te bekostig:
# ‘n Parlementslid van ActionSA, Lerato Ngobeni, sê die party wil hê die regering moet wetgewing indien wat spesifieke sektore van die ekonomie reserveer. Ngobeni sê dit sal help om plaaslike ondernemers en sakeondernemers te bemagtig, plaaslike ekonomieë bevorder en verseker die welvaart wat geskep word, sirkuleer in gemeenskappe. Volgens Ngobeni is dit hoog tyd dat die regering iets doen aan die toename in onwettige buitelanders wat die spaza-ekonomie regoor die land oorheers:
# Die Amerikaanse president Joe Biden het die sluipmoordpoging op die voormalige president Donald Trump veroordeel en doen ‘n beroep op alle Amerikaners om sulke “siek” geweld te verwerp. Biden vra eenheid na ‘n man Trump in die oor geskiet het, ‘n lid van die skare gedood en twee ander by ‘n verkiesingsveldtog in Butler, Pennsilvanië, gewond het. Trump het sy vuis in die lug gehou toe hy inderhaas, met bloed op sy gesig, van die verhoog verwyder is. Die aanvaller, wat nog nie uitgeken is nie, is deur Geheime Diens-agente doodgeskiet.
# En, rugby: Die verdedigende Curriebekerkampioene, die Cheetahs, het gister op die Vrystaatstadion Bloemfontein ‘n oorwinning van 37-17 teen die Westelike Provinsie behaal. Die haker Vernoon Paulo het vir twee drieë teen die einde gesorg. Die rustydtelling was tien-elk. Die Cheetahs is steeds bo aan die Curriebekerpunteleer. Vanmiddag verwelkom die Griffons die Blou Bulle in Welkom. Die Leeus het die Pumas Vrydag in Mbombela met 75-21 afgeransel, terwyl die Griekwas die Haaie in Kimberley met 34-31 ore aangesit het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….