Nuus 13:00
BULLETIN 13 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Wes-Kaapse regering nader die Nasionale Rampbestuursowerheid vir hulp
# Voortgesette opheffing van beurtkrag duur nou al 108 dae
# En, rugby: Andy Farrell verwag ‘n beter vertoning van Ierland en die Springbokke [KLANK]
# Die Wes-Kaapse LUR vir Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, sê hulle het die Nasionale Rampbestuursentrum vir hulp genader terwyl die provinsie desperaat is vir bykomende bronne om sy rampbestuursoperasies te kan volhou. Bredell sê terwyl die gure weer voortduur, is meer as 100-duisend mense in Kaapstad reeds geraak en minstens 33-duisend strukture is beskadig. Hy sê die Wes-Kaap is gemoeid met ‘n reuse humanitêre situasie en alle owerhede werk saam om te help.
# Die EFF-parlementslid, Babalwa Mathulelwa sê die party doen ‘n beroep vir die sluiting van die Departement van Kleinsakeontwikkeling weens sy mislukking om kleinsakeondernemings in informele nedersettings te help. Mathulelwa het tydens die begrotingsdebat in die Parlement gepraat. Sy sê omdat die departement nie moet bestaan nie, het die EFF in die sesde termyn van die Parlement ingestem dit moet sluit en sy funksies moet na die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging oorgedra word:
# Eskom het aangekondig hy het sedert Maart vanjaar 108 agtereenvolgende dae beurtkrag opgehef. Eskom se woordvoerder Daphne Mokwena sê die voortgesette stabiliteit getuig van die toegewyde pogings van Eskom se 40-duisend werknemers met die inwerkingstelling van die Opwekkingsherstelplan wat in Maart verlede jaar begin het, asook die uitvoering van omvattende, beplande onderhoud:
# ‘n Hof het die Hollywood-akteur Alec Baldwin se saak van onwillekeurige manslag van die hand gewys na sy verdediging die staatsaanklaer beskuldig het dat hy bewyse oor skerppunt-ammunisie verdoesel het. Die 66-jarige Baldwin, wat tronkstraf van tot 18 maande in die gesig gestaar het, was in trane toe die regter in ‘n hof in Nieu-Mexiko die saak uitgegooi het. Baldwin het volgehou hy het nie die sneller van die wapen getrek in die voorval in 2021 waarin die film-operateur Halyna Hutchins op die stel van die Western rolprent, Rust, dood is nie.
# En, rugby: Baie is op die spel in vanmiddag se laaste toets tussen Suid-Afrika en Ierland in Durban. Sommige beskou Ierland steeds as die beste span in die wêreld ten spyte daarvan dat die Springbokke die Wêreldbeker die vierde keer ingepalm het, terwyl die besoekers graag die seisoen op ‘n hoё noot wil afsluit deur die reeks te deel. Hulle afrigter Andy Farrell verwag die wêreldkampioene gaan twee keer beter wees as toe hulle die eerste toets verlede naweek gewen het:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….