Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum gaan klagtes lê teen Malema en Shivambu na die bewerings van VBS se gewese voorsitter
# Die Stad Kaapstad werk onverpoosd om waterbeskadigde infrastruktuur te herstel
# En, tennis: Fynproewers is verheug oor die terugkeer van ‘n eenhand-rughandspeler in Wimbledon se halfeindronde
# Afriforum gaan klagtes van korrupsie, bedrog en geldwassery indien teen die EFF-leiers Julius Malema en Floyd Shivambu. Dit volg op bewerings deur die gewese voorsitter van die VBS Mutual bank, Tshifhiwa Matodzi, wat die EFF beskuldig dat hy miljoene rand se omkoopgeld ontvang het. Kallie Kriel van AfriForum sê hulle regspan gaan die klagtes indien, en het die regsgeleerde Gerrie Nel gevra om toesig te hou. Hy waarsku oor moontlike privaat vervolging as die Nasionale Vervolgingsgesag sloer:
# Eskom sê hy het kragtoevoer herstel na meer as vyf-duisend huishoudings in Khayelitsha, Kaapstad, ten spyte van koue en nat weer in die Wes-Kaap. Tegnici is steeds besig met foute regoor die provinsie, met onderbrekings in Sutherland, Macassar, De Doorns, Bettysbaai, Kleinmond en Rooiels. Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir Energie, Xanthea Limberg, sê intussen spanne werk onverpoosd om ernstige skade aan infrastruktuur regoor die metro te herstel:
Kaapstad se Direktoraat Stedelike Beweeglikheid het intussen vertragings aangemeld op MyCiTi-busroetes weens die uiterste weerstoestande. Wydverspreide padsluitings, insluitend AZ Berman en die M5 se suidwaartse afrit na Otteryweg, veroorsaak aansienlike ontwrigtings. Gebiede soos Cycad-singel en dele van Mitchells Plain word deur oorstromings geraak. Die burgemeesterskomiteelid vir Stedelike Beweeglikheid, Rob Quintas, vra motoriste en voetgangers om versigtig te wees en indien moontlik nie te reis nie:
# Tennis: Lorenzo Musetti se vordering na die halfeindronde van Wimbledon word beskryf as die herlewing van ‘n vaardigheid wat uitsterf. Die Italianer, nommer 25 op die ranglys, is een van ‘n handjievol mans wat nog die eenhand-rughandhou gebruik. Kenners was spyt oor die afname in die kuns nadat Stefanos Tsitsipas van Griekeland in Februarie uitgesak het uit die toptien, wat dit die eerste keer in 50 jaar sonder ‘n eenhand-rughandspeler gelaat het. Vorige kampioene wat die metode gebruik het sluit in die Switserse meester Roger Federer en die Amerikaner Pete Sampras.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-98-sent teen die dollar, 19-rand-59-sent teen die euro en 23-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-91-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-401-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-92-sent per vat.
# Ten slotte: Oudpresident Jacob Zuma se dogter, Nomcebo Zuma, gaan volgens berigte met koning Mswati die Derde van Eswatini trou om sy 16de vrou te word. Die 21-jarige is die dogter van Zuma en sy vyfde vrou, Nonkululeko Mhlongo. Koning Mswati se afvaardiging en senior Zulu-koninklike familielede het glo verlede week Zuma se huis in Nkandla, KwaZulu-Natal, besoek en tien beeste as lobola betaal.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….