Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In hierdie bulletin:
# Die padwaardigheid van ‘n Gautengse leerdervervoer-bussie word ondersoek na Woensdag se noodlottige ongeluk
# Die minister van Arbeid erken kritiek op haar begroting
# En, fietsry: ‘n Driekuns skof-oorwinnings vir Biniam Girmay in die Tour de France
# Die Gautengse Vervoerdepartement sê hy ondersoek die padwaardigheid van die leerdervervoer-bussie waarin elf leerders Woensdag in Carletonville verongeluk het. Die voertuig-bestuurder is ook dood. Die leerders was van Rocklands Primary School en Laerskool Blyvooruitsig. Die LUR vir Vervoer, Kedibone Diale-Tlabela, sê hulle kon nog nie vasstel of die voertuig gelisensieer was nie:
# Die minister van Indiensneming en Arbeid, Nomakhosazana Meth, het erkenning gegee aan politieke partye se kritiek nadat sy haar departement se begroting in die Parlement ter tafel gelê het. Die EFF en MK-party is ontevrede omdat die regering steeds nie daarin slaag om werk te skep nie. Hulle sê ook dele van die departement is ondoeltreffend en moet geskrap word. Die departement het vir die 2024/’25-boekjaar meer as 3,8-miljard-rand van Nasionale Tesourie ontvang. Meth sê sy neem kennis van die reusetaak wat vir haar voorlê:
# Die Save South Africa burgerlike beweging sê hy is bemoedig deur die werk van die nuwe minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie. Die minister het dié week ‘n einde gebring aan alle gratis reise van sport-superaanhangers en sê die geld wat die departement daarop uitgee, kan beter êrens anders aangewend word. Hy het ook die name van atlete en kunstenaars gepubliseer wat befondsing van die departement ontvang tydens die Covid-19-pandemie. Tebogo Mashilompane van die beweging sê McKenzie kry dinge gedoen:
McKenzie het intussen hulde gebring aan die gewese Bafana Bafana-afrigter, Stanley Tshabalala, en sê sy nalatenskap sal voortleef. Die 75-jarige Tshabalala is gister dood aan beserings wat hy vroeër vanjaar tydens ‘n rooftog by sy huis opgedoen het. McKenzie sê Tshabalala, met die bynaam Screamer, het oor talle dekades heelwat sokkerspelers en spanne gehelp. Die ANC sê Tshabalala se dood laat ʼn groot leemte in die sportwêreld.
# Fietsry: Biniam Girmey van Eritreë het sy derde skofoorwinning op vanjaar se Tour de France behaal deur die 12de skof in te palm. Die 24-jarige het reeds die derde en agtste skof gewen en sy derde skofoorwinning vergroot sy punte-voorsprong in die snelrenne. Tadej Pogacar van Slowenië het intussen die geel trui van die algehele voorloper behou en is steeds een-minuut-ses-sekondes voor Remco Evenepoel van België. Girmay sê hy gaan in die toekoms op snelrenne fokus:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-97-sent teen die dollar, 19-rand-57-sent teen die euro en 23-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-162-dollar-99-sent. Die prys van goud is twee-duisend-407-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….