Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 12 Julie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die nuwe minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola het Suid-Afrika se onverbonde standpunt in geopolitiek opnuut besvestig. Hy sê die regering van nasionale eenheid sal dit nie verander nie.
# En Mail & Guardian op Vrydae:
Lei met “UNPLUGGED”. Die koerant skryf die ANC het die EFF in Gauteng uitgesluit in hul regeringsamestelling aangesien die party volgens hulle geen doel dien nie.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig ‘n 62-jarige vrou is dood in ’n brand by die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie se Die Anker-tehuis vir bejaardes in Germiston. Vyftig ander inwoners is veilig verwyder. Die oorsaak van die brand word ondersoek.
En tweedens skryf die koerant die Suid-Afrikaanse Rugbyunie ondersteun na bewering die SABC se besluit om sy beplande uitsendings van die Springbokke se wedstryd teen Ierland op te skort. SARU sê dis belangrik vir die langtermyn-volhoubaarheid van rugby.
# The Star en Pretoria News:
Berig oudpresident Jacob Zuma se 21-jarige dogter, Nomcebu gaan die sestiende vrou word van koning Mswati die Derde van Eswatini.
En skryf tweedens die Springbokke gaan môre fokus op hul oorheersing in die skrums.
# Sowetan:
Lei met: “THEIR FIRST AND LAST RIDE” Die koerant berig vier nefies en niggies in Carletonville het vir die eerste keer ‘n nuwe bussie skool toe geneem omdat hulle vorige vervoer dikwels laat was. Hulle is al vier dood in die gru-ongeluk wat 12 geëis het.
# En The Citizen:
Skryf oor die moontlike uitwerking van die Amerikaanse presidentsverkiesing op Suid-Afrika.
En berig oor aspekte van spel waarop die Bokke môre kan verbeter in hul kragmeting teen Ierland.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig gister was ‘n dag van rampe vir brandweerbeamptes en reddingswerkers van Bloemfontein. Hulle moes ‘n veldbrand wat ‘n huis bedreig het onder beheer bring en twee noodlottige motorongelukke hanteer.
En tweedens skryf die koerant ook oor SARU se uitgangspunt oor die uitsending van die Springbokke se kragmeting.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Fokus opnuut op die gure weer wat verwoesting saai in die Wes-Kaap. Die koerant skryf nóg neerslae en oorstromings word verwag.
En tweedens is daar nuus oor ‘n onbekende weldoener wat in Blackheath probeer het om ‘n bejaarde vrou uit die vloedwater te red en self meegesleur is en verdrink het.
# En Cape Times:
Skryf die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi het slegs oorsigtelike inligting oor sy begroting bekend gemaak.
En berig Suid-Afrika se uitvoere na die Europese Unie is onder druk.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ‘n plaaslike gesin is in rou gedompel nadat twee tienerneefs op pad na die plaaslike kafee oorval is en met messe doodgesteek is.
En tweedens is daar nuus oor die hervestiging van die Lapland-inwoners wat weer vertraag is nadat ‘n aansoek wat die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit ingedien het, verwerp is.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die premier van KwaZulu-Natal, Thami Ntuli het ‘n reddingsboei van 100-miljoen-rand aangekondig vir ondernemings in jeugbesit.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig talle bejaardes in Namibië verdrink in skuld wat hulle aangaan om na hul kleinkinders om te sien wat in hul sorg geplaas word.
En tweedens skryf die koerant Namibiese owerhede skat sowat 15 babas is vanjaar tuis dood nadat hulle weens die ontoeganklikheid van gesondheidsgeriewe tradisionele behandeling ontvang het.