Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die moordbeskuldigde Grayson Beare se saak is uitgestel vir verdere sielkundige waarneming
# ActionSA eis vervolging na die uitspraak in die Life Esidimeni-ondersoek
# En, rugby: Die veteraan James Slipper voer die Wallabies aan teen Wallis in Melbourne
# Die saak teen die moordbeskuldigde Grayson Beare is in die Landdroshof in Durban uitgestel tot die 24ste van die maand. Hy word aangekla van moord op ‘n ma van drie, Halima Hoosen-Preston, weens haar steun vir Palestina. Beare het haar na bewering 15 keer met ‘n skerp voorwerp gesteek. Hy word ook van poging tot moord aangekla omdat hy na bewering haar man, Shaun, en hulle 14-jarige seun gesteek het. Drie psigiaters en ‘n kliniese gesondheidspesialis sal voor die volgende hofdatum ‘n besluit neem oor Beare se geestestoestand.
# ActionSA vra die Direkteur van Openbare Vervolgings om op te tree na die uitspraak in die Life Esidimeni-ondersoek in die Hooggeregshof in Pretoria. Die ondersoek na die dood van meer as 140 psigiatriese pasiënte het die voormalige Gautengse LUR vir Gesondheid, Qedani Mahlangu, en die gewese hoof van Geestesgesondheid, Makgabo Manamela, skuldig bevind aan nalatigheid. Action SA se parlementslid, Kgosi Letlape, vra hulle moet strafregtelik vervolg word, en beklemtoon aanspreeklikheid en geregtigheid vir die slagoffers en hulle families.
# Die stigter van Utshalo, Paul Miller, sê die behoefte bestaan om Suid-Afrika se ope mark te verbeter deur dit moontlik te maak vir kleiner beleggers om meer aktief deel te neem aan koperprojekte in die Noord-Kaap. Orion Minerals bemiddel dit deur ‘n aandeelkoopplan vir Suid-Afrikaanse aandeelhouers. Dit wil plaaslike besit en belegging in mynprojekte ‘n hupstoot gee en kapitaalopwekkingsuitdagings in die land se mynsektor aanpak. Miller beklemtoon die belangrikheid daarvan om meer deelname aan mynondernemings aan te moedig:
# Rugby: Die veteraan-stut, James Slipper, voer die Wallabies aan in Saterdag se tweede toets teen Wallis in Melbourne in die plek van Liam Wright, wat beseer is tydens die oorwinning van 25-16 in verlede naweek se eerste toets teen die Walliesers in Sydney. Charlie Cale, wat hom vervang het, begin die eerste keer op nommer agt en Rob Valetini verskuif na toekant-flank in die enigste verandering wat afrigter Joe Schmidt aan die opdrafspan aangebring het. Schmidt het die volste vertroue in Slipper se leierskap:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-7-sent teen die dollar, 19-rand-61-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-587-dollar-96-sent. Die prys van goud is twee-duisend-381-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-14-sent per vat.
# Ten slotte: Kaapstad en OR Tambo is onder die wêreld se tien beste lughawens. Kaapstad is tweede en OR Tambo sesde op AirHelp se 2024-lys. Die kategorieë waarvolgens lughawens beoordeel word, sluit in hoe betyds hulle is, en passasiers se oordeel oor die geriewe. Hamad Internasionale Lughawe in Katar is boaan die lys. Die Suid-Afrikaanse Lughawensmaatskappy sê die erkenning bewys dat harde werk beloon word. Die maatskappy sê hulle werk hard om die land se lughawens onder die beste in die wêreld te hou
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….