Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 11 Julie 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met rugby: Die Springbokhaker, Bongi Mbonambi, sê hulle wil verbeter op hulle skrumvertoning in Saterdag se laaste toets teen Ierland in Durban. Suid-Afrika het die vastespel in die eerste toets in Pretoria eers begin oorheers toe die bomb squad vroeg in die tweede helfte op die veld gekom het. Dit het uiteindelik daartoe gelei dat die voorspelers laat in die wedstryd ‘n strafdrie afgedwing het. Mbonambi sê hulle het uit hulle aanvanklike frustrasies geleer toe Ierland hulle skrums kon ontwrig, maar daar kan nog baie verbeter word.
Die loskopstut, Fin Baxter, is intussen die eerste keer in Engeland se opdrafspan wanneer hulle Saterdag teen Nieu-Seeland uitdraf op Eden Park in Auckland. Die 22-jarige Baxter het verlede week sy debuut van die bank gemaak in die eerste toets in Dunedin, wat hulle naelskraaps 16-15 verloor het. Hy vervang die beseerde Joe Marler. Bevan Rodd sal Baxter op die bank ondersteun. Engeland moet wen om die reeks gelykop te maak op ‘n veld waar die All Blacks 30 jaar laas verloor het.
# Vervolgens, nuus oor die naderende Olympiese Spele: Die gimnas Caitlin Rooskrantz en die atleet Akani Simbine sal Span Suid-Afrika se vlagdraers wees in Parys, terwyl die swemmer Kat Swanepoel en naelloper Mpumelelo Mhlongo die eer kry op die Paralimpiese Spele. Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komtee het onlangs die Blitsbokke en verskeie ander atlete by Span Suid-Afrika gevoeg, wat beteken 140 atlete ding mee in 19 sportsoorte. Die Spele begin op die 26ste van dié maand en die Paralimpiese Spele op die 28ste van volgende maand.
# Nou sokker: Ollie Watkins se doel laat in die wedstryd het Engeland Nederland met 2-1 laat verslaan om deur te dring na die eindstryd van die Europese Kampioenskap. Hulle sal Sondag in Berlyn teen die driemalige kampioen, Spanje, te staan kom. Die Drie Leeus hoop om op hulle vorige vertoning van die Euro 2020-kompetisie te verbeter toe hulle in die eindstryd met strafdoele teen Italië verloor het. Bestuurder Gareth Southgate sê om nog ‘n eindstryd te haal is ‘n baie groot prestasie vir die span:
# En tennis: Lorenzo Musetti is deur na sy eerste halfeindstryd op Wimbledon. Die 22-jarige het die Amerikaner Taylor Fritz in vyf stelle geklop om die vierde Italianer ooit te word om die mans-halfeind te bereik. Hy en die Serwiër Novak Djokovic spook sake uit vir ʼn plek in die eindstryd. Kgothatso Montjane van Suid-Afrika is deur na die kwarteindronde van die vroue-rolstoel-enkelspel nadat sy die Brit Lucy Shuker 6-2, 6-stroop verslaan het. Musetti sê die wedstryd teen Djokovic sal ʼn uitdaging wees:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….