Nuus 11:00
BULLETIN 11 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê Hlophe se aanstelling op die Regterlike Dienskommissie is moreel onaanvaarbaar
# Ian Cameron sê hy is gereed om Suid-Afrika veiliger te maak
# En, Brittanje sal voortgaan met sy militêre steun aan Oekraïne
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê die ontevredenheid oor die aanstelling van die afgedankte Wes-Kaapse regterpresident, John Hlophe, in die Regterlike Dienskommissie is geldig. Die Nasionale Vergadering het Dinsdag ‘n mosie aanvaar om Hlophe as die MK-party se verteenwoordiger op die kommissie te verkies al is hy weens growwe wangedrag afgedank. Mbalula het aan die SABC gesê Hlophe se verkiesing is kommerwekkend, veral vir die regbank:
Die DA-parlementslid, Ian Cameron, is die nuwe voorsitter van die portefeuljekomitee op die Polisie en sê hy is gereed vir die taak om die land ʼn veiliger plek te maak. Die voormalige aktivis teen misdaad het hom gereeld uitgespreek teen die polisie se mislukkings, veral onder leierskap van die gewese minister, Bheki Cele. Cameron sê die komitee beplan behoorlike oorsig oor die Polisiediens en sal dit aanspreeklik hou:
# Die DA in Gauteng dring aan dat die LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, die huidige leerdervervoerbeleid dadelik hersien. Dit volg nadat ʼn bakkie teen ʼn minibus gebots het in Merafong, Carletonville, en 12 leerders en die bestuurder se lewens geëis het. Sergio Isa dos Santos van die DA sê die huidige beleid dien nie die provinsie se leerders behoorlik nie:
# Die pasverkose Britse eerste minister, Keir Starmer, sê sy regering bly by die plan om jaarliks minstens 69,8-miljard-rand te bestee om Oekraïne militêr te ondersteun. Hy het gister op die NAVO-beraad in Washington met Oekraïne se president, Volodymyr Zelensky, vergader. Starmer sê die militêre hulp, wat humanitêre en ekonomiese ondersteuning insluit, sal tot minstens 2030-’31 voortgaan. Hy doen ook ʼn beroep op NAVO-bondgenote om besteding aan verdediging uit te brei weens toenemende globale bedreigings, insluitend van Rusland.
# Rugby: Die loskopstut, Fin Baxter, is die eerste keer in Engeland se opdrafspan wanneer hulle Saterdag teen Nieu-Seeland uitdraf op Eden Park in Auckland. Die 22-jarige Baxter het verlede week sy debuut van die bank gemaak gemaak in die eerste toets teen die All Blacks in Dunedin, wat hulle naelskraaps 16-15 verloor het. Hy vervang die beseerde Joe Marler. Bevan Rodd sal Baxter op die bank ondersteun. Engeland moet wen om die reeks gelykop te maak op ʼn veld waar die All Blacks 30 jaar laas verloor het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-9-sent teen die dollar, 19-rand-61-sent teen die euro en 23-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-151-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-379-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….