Nuus 07:00
BULLETIN 11 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister MacPherson sê die ondersoek na kuberdiefstal by die Departement van Openbare Werke duur voort
# AfriForum en Solidariteit versoek die Nasionale Vervolgingsgesag om vervolging te heroorweeg in die Life Esidimeni-saak
# En Olimpiese Spele: Caitlin Rooskrantz en Akani Simbine sal die Suid-Afrikaanse vlag dra by die Parys-spele
# Die regering sê ‘n ondersoek na bewerings dat geld van die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur deur kubermisdaad geswendel is, duur voort. Minister Dean Macpherson het onthul die departement het die afgelope tien jaar minstens 300-miljoen-rand weens kubermisdaad verloor. In die jongste voorval is 24-miljoen-rand gesteel wat tot vier departementele amptenare se skorsing gelei het. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die Staatsveiligheidagentskap gaan voort om ondersteuning en raad oor kubersekerheid aan staatsdepartemente te gee.
# Die DA het vyf voorsittersposte in parlementêre komitees gekry en drie in die Nasionale Raad van Provinsies. Dit volg nadat nog 13 komitees van die Nasionale Vergadering gister hul onderskeie voorsitters verkies het. Die DA is deel van die regering van nasionale eenheid. Die Vryheidsfront Plus, RISE Mzansi en Build One SA is ook komiteevoorsitters. Die Parlement sê die verkiesing van voorsitters baan die weg vir komitees om te begin beraadslaag oor begrotingsposte en ander belangrike sake.
# Die regsafdeling van die Motorbedryf-personeelvereniging is oorgehaal vir bystand aan 317 lede wat geraak word deur AutoZone se vrywillige sakeredding. Te midde van ‘n uitdagende omgewing in die kleinhandelmotorbedryf weens hoë rentekoerse en lewenskoste, erken die vereniging AutoZone se poging om ondernemings te beskerm en werksverliese te keer. Die woordvoerder Sonja Carstens onderneem om te verseker lede sal salarisse en voordele kry onder sakereddingsvoorsiening:
# AfriForum en Solidariteit moedig die Nasionale Vervolgingsgesag aan om die vervolging te heroorweeg van die voormalige Gautengse LUR vir Gesondheid Qedani Mahlangu en die geestesgesondheidshoof Makgabo Manamela na die bevindings van die Life Esidimeni-ondersoek. Die Hooggeregshof in Pretoria het bevind hulle nalatigheid het bygedra tot die dood van minstens nege pasiënte. AfriForum, wat die slagoffers se families verteenwoordig, wag op die geskrewe uitspraak voor verdere optrede. René Roux van Solidariteit verwelkom die uitspraak as ‘n stap na geregtigheid:
# Die uittredende NAVO sekretaris-generaal, Jens Stoltenberg, sê die uitslag van die oorlog tussen Rusland en Oekraïne sal wêreldwye sekerheid dekades lank vorm. Hy het by die NAVO-beraad wat tans in Washington plaasvind, gepraat. Stoltenberg sê indien Rusland die oorlog in Oekraïne wen, sal dit ander outoritêre leiers in Iran, Noord-Korea en China aanmoedig:
# Olimpiese Spele: Die gimnas Caitlin Rooskrantz en die atleet Akani Simbine sal Span Suid-Afrika se vlagdraers wees in Parys, terwyl die swemmer Kat Swanepoel en baan-ster Mpumelelo Mhlongo die eer kry by die Paralimpiese Spele. Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee het onlangs die Blitsbokke en verskeie ander atlete by Span Suid-Afrika gevoeg, wat beteken 140 atlete ding mee in 19 sportsoorte. Die Spele begin op die 26ste van dié maand en die Paralimpiese Spele op die 28ste van volgende maand.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-11-sent teen die dollar, 19-rand-64-sent teen die euro en 23-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-894-dollar-58-sent. Die prys van goud is twee-duisend-375-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-78-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….