Nuus 06:00
BULLETIN 11 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die leier van RISE Mzansi word verkies as die voorsitter van SKOOR
# Die DA wil hê Mahlangu en Manemela moet vervolg word oor Life Esidimeni
# En George Clooney doen ‘n beroep op Biden om aan die presidensiële wedloop te onttrek
# RISE Mzansi verwelkom die aanstelling van sy nasionale leier en lid van die Parlement, Songezo Zibi, as voorsitter van die Staande Komitee oor Openbare Rekeninge van die Parlement. Die toesigliggaam verseker aanspreeklikheid met openbare fondse. Die sweep van die partykoukus, Makashule Gana, sê Zibi se leierskap sal absoluut geen verdraagsaamheid duld teenoor korrupsie nie, in ooreenstemming met die verbintenis tot doeltreffende openbare diens en finansiële integriteit. Hy het Zibi se verbintenis verduidelik om die toesig van die uitvoerende gesag te verbeter en om betrokke te wees by gemeenskappe oor finansiële deursigtigheid.
ActionSA het intussen sy bedenkinge uitgespreek oor die aanstelling van Zibi. Die parlementêre koukusleier van ActionSA, Athol Trollip, sê dit verbreek die gebruik van leiding deur opposisiepartye. Volgens hom ondermyn hierdie besluit van die regering van nasionale eenheid doeltreffende toesig, aangesien SKOOR ‘n kritieke rol vervul om die regering aanspreeklik te hou:
# Die DA in Gauteng vra dat die voormalige LUR vir Gesondheid, Qedani Mahlangu, en direkteur van Geestesgesondheid, Makgabo Manemela, van strafbare manslag aangekla word. Dit volg nadat die Hooggeregshof in Pretoria bevind het dat hulle nalatige optrede die dood van sommige van die 141 slagoffers van die Life Esidimeni-tragedie in 2016 veroorsaak het. Die geestesgesondheidspasiënte is van Life Esidimeni na swak voorbereide nie-regeringsorganisasies oorgeplaas. Jack Bloom van die DA sê dié uitspraak is ’n ernstige aanklag teen Mahlangu en Manemela:
# Die Wes-Kaapse regering sê rampspanne is op ‘n hoë gereedheidsgrondslag nadat die Suid-Afrikaanse Weerdiens die weerwaarskuwing vir vandag tot vlak agt aangepas het vir ontwrigtende reënval. Ontwrigtende weerstoestande in die provinsie die week het vier-duisend-500 mense dakloos gelaat en meer as 15-duisend strukture beskadig. Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, JP Smith, sê weerstoestande sal waarskynlik lei tot wydverspreide oorstromings en ‘n uitwerking hê op reaksietye:
# Die bekroonde akteur en reuseskenker aan die Amerikaanse Demokratiese Party, George Clooney het president Joe Biden versoek om te onttrek aan die presidensiële wedloop. In ‘n artikel in die New York Times sê hy die Biden wat hy drie weke gelede tydens ‘n fondsinsameling teëgekom het, is nie dieselfde as die president wat hy in 2010 leer ken het nie. Clooney sê daar kan nie aanvaar word die Demokrate het hul keuse vir kandidaat afgehandel nie. Hy sê Biden het geen kans om teen oudpresident Donald Trump te wen nie.
# Rugby: Springbokhaker, Bongi Mbonambi, sê hulle wil verbeter op hulle skrumvertoning in Saterdag se laaste toets teen Ierland in Durban. Suid-Afrika het die vastespel in die eerste toets in Pretoria eers begin oorheers toe die bomb squad vroeg in die tweede helfte op die veld gekom het. Dit het uiteindelik daartoe gelei dat die voorspelers laat in die wedstryd ‘n strafdrie afgedwing het. Volgens Mbonambi het hulle uit hulle aanvanklike frustrasies geleer toe Ierland hulle skrums kon ontwrig maar daar kan nog baie verbeter word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-12-sent teen die dollar, 19-rand-63-sent teen die euro en 23-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-620-dollar-35-sent. Die prys van goud is twee-duisend-374-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-49-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….