Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die hof hoor van ontstellende toestande van die 144 Life Esidimeni-pasiënte
# Verskeie Wes-Kaapse skole gaan sluit weens hewige stormwaarskuwings
# En, die Olimpiese Spele: Selvyn Davids voer die Blitsbokke aan in Parys
# Die Hooggeregshof in Pretoria het gehoor die 144 pasiënte van Life Esidimeni is gemartel, verwaarloos en kos, water en medikasie is van hulle weerhou. Hulle is in 2016 van ‘n privaat psigiatriese hospitaalgroep verskuif na nie-regeringsorganisasies wat nie toegerus en gelisensieer was nie. Die nie-regeringsorganisasie, Anchor, is daarvan beskuldig dat hy lewensgevaarlike plekke vir pasiënte daargestel het. Regter Mmenoa Teffo het beslis die staats-geestesgesondheidspasiënte is dood in die sorg van 27 ongelisensieerde nie-regeringsorganisasies wat deur die Gautengse Gesondheidsdepartement gekontrakteer is.
# Die Wes-Kaapse LUR vir Onderwys, David Maynier, het aangekondig dat skole in die Kaapstadse metro, die Kaapse Wynland, die Overberg en dele van die Weskus-distrik môre gesluit is. Die LUR noem veiligheidskommer na samesprekings met die provinsiale Rampbestuursentrum en die Weerdiens. Skole wat geraak word is in kennis gestel. Maynier se woordvoerder, Millicent Merton, bevestig 20 skole is toestemming gegee om te sluit, met 137 wat infrastruktuurskade aangemeld het:
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean McPherson, het die behoefte beklemtoon vir samewerking om konstruksiemafias in Suid-Afrika uit te roei. Hierdie groepe gebruik afpersing, geweld, intimidasie en ontwrigting, veral in KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap, en dit lei tot beduidende ekonomiese verliese. Macpherson het aan die SABC gesê dis uiters belangrik om hierdie uitdagings trompop te takel om die boubedryf te laat herleef, wat ‘n sleutel-onderdeel van ekonomiese groei en ontwikkeling is.
# Ses mense is beseer op die eerste dag van die jaarslikse bulstormloop in Pamplona, Spanje. Die meeste is beseer in wat stampe genoem word. Daarby is ‘n 37-jarige Spaanse man volgens berigte deur ‘n bul deurboor. Die geleentheid vind elke Julie plaas en is bekend vir elke oggend se bulstormlope. Byna 1,7-miljoen mense het dit glo in 2022 bygewoon en 16 mense is sedert 1910 dood.
# Olimpiese Spele: Die ervare spelskepper, Selvyn Davids, voer die Springbok Sewesspan aan in Parys. Hy is een van vyf spelers in die groep van 12 wat ook aan die vorige Spele in Tokio deelgeneem het. Die ander is Impi Visser, Zain Davids, Rosco Specman en Siviwe Soyizwapi. Ronald Brown en Katlego Letebele is die reisende reserwes. Hoofafrigter Philip Snyman het dieselfde groep behou wat verlede maand tydens ‘n toernooi in Monaco die kwalifisering vir die Blitsbokke deurgehaak het:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-7-sent teen die dollar, 19-rand-55-sent teen die euro en 23-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-662-dollar-95-sent. Die prys van goud is twee-duisend-381-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….