Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Naledi Pandor vergelyk die Palestynse stryd met Suid-Afrika se apartheid
# Minister Macpherson onthul reuse-kuberdiefstal by die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur
# En, Olimpiese Spele: Span Groot-Brittanje mik na 50 tot 70 medaljes in Parys
# Die voormalige minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Naledi Pandor, sien ooreenkomste tussen die stryd van Palestyne en Suid-Afrikaners onder apartheid. Pandor het by die Rhodes-universiteit in Makhanda in die Oos-Kaap gesê anders as met Suid-Afrikaners, wat leiding gekry het met hulle stryd teen onderdrukking, het dit lande wêreldwyd maande geneem om die kwessies in Gaza aan te pak. Sy beklemtoon die behoefte aan ‘n vreedsame oplossing vir die konflik tussen Israel en Hamas:
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het reuse-kuberdiefstal van minstens 300-miljoen-rand die afgelope dekade onthul. Vier-en-twintig-miljoen-rand is gesteel in die jongste aanval in Mei. Vier amptenare is geskors, en 300 skootrekenaars in beslag geneem. Macpherson sê ‘n volledige forensiese ondersoek is aan die gang, waarby die Valke, die polisie, die Staatsveiligheidsagentskap en kubersekerheidskenners betrokke is:
# Suid-Afrika se staking-seisoen bedreig 1,6-miljoen-werksdae en word aangevuur deur hoё werkloosheid en ekonomiese onbestendigheid. Volgens kenners is die onlangse stakings, in mynbou, openbare vervoer, gesondheidsorg en ander sektore, diep gewortel in ekonomiese uitdagings. ‘n Verteenwoordiger van Rhodes-universiteit, Lucien van der Walt, bepleit as ‘n oplossing die instelling van ‘n Sweedse model waar werkers aandele ontvang. Vakbonde bly egter lugtig vir aandeleskemas omdat hulle vrees dit gaan hulle bedingingsposisie verswak. Van der Walt is ook krities oor die verwaarlosing van instellings soos Nedlac, wat noodsaaklik is vir ekonomiese samewerking.
# Olimpiese Spele: Britse sportowerhede het ‘n teiken gestel van tussen 50 en 70 medaljes vir Span Groot-Brittanje op die Spele in Parys. Altesaam 327 atlete sal die land vanaf die 26ste van hierdie maand verteenwoordig. Groot-Brittanje het 64 medaljes gewen op die vorige Spele in Tokio, 67 in Rio in 2016 en 65 tuis in Londen in 2012. Die span sal aan 24 van die 32 sportkodes deelneem. UK Sport se direkteur van Prestasie, Kate Baker, glo haar landgenote kan vanjaar geskiedenis maak.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-7-sent teen die dollar, 19-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-553-dollar-81-sent. Die prys van goud is twee-duisend-373-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-40-sent per vat.
# Ten slotte: Die uitvoerende hoof van die Suider-Afrikaanse Bedrogvoorkomingsdiens, Manie van Schalkwyk, waarsku Suid-Afrikaners teen die klakkelose aanvaarding van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se outo-aanslae. Van Schalkwyk sê die Inkomstediens bevorder al hoe meer outo-assessering vir belastingbetalers wat kwalifiseer. Hy sê hulle kom dan óf in aanmerking vir ‘n terugbetaling, óf moet geld inbetaal. Hy voeg by bedrieërs kontak belastingbetalers en gee voor hulle is van die diens. Wanneer belastingbetalers aanteken om die outo-beoordeling in te vul, word hulle na ‘n gevolmagtigde webblad gestuur waar die bedrieërs die inligting gebruik wat hulle op die vorm ingevul het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….