Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 Julie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Universiteit van KwaZulu-Natal se Sentrum vir Skeppende Kunste sê reëlings is goed aan die gang vir die 45ste Durbanse Internasionale Rolprentfees. Die fees spog met meer as 100 vertonings en verskeie slypskole, seminare en uitreikings, insluitend rolprente in informele nedersettings waar daar nie enige rolprentteaters is nie. Dokumentêre rolprente van verskeie lande gaan vertoon word, insluitend van die Sundance- en die Berlynse Fees. Dit begin volgende Donderdag en duur tien dae.
# Kaapstad se Heat Winter-kunstefees wil klein kunsondernemings en opkomende kreatiewe persone ondersteun. Die geleentheid wat môre begin, spog met kunsuitstallings, teateropvoerings en jazz-geleenthede. Die organiseerder, Mary Corrigall, sê die fees fokus op die jeug en kultuur-skeppers en bied ‘n platform waar mense kreatief kan wees en met ander ʼn band vorm. Sy sê die geleentheid sal ook besoekers na galerye in die middestad lok.
# Kandidate vir die Stad Ekurhuleni se Youth Legacy Excellence-toekennings kan nog tot Vrydag benoem word. Dit erken en vereer uitstaande prestasies van jeugdiges. Kategorieë waarin persone benoem kan word, sluit in gesondheid, kuns en kultuur, justisie en die reg, filantropie, en media en vermaak. Benoemdes moet tussen 18 en 35 jaar wees en in hul loopbaan, werksruimte of gemeenskap bewys het dat hulle ʼn visie vir die toekoms het. Die toekenningsgeleentheid word op die 23ste van die maand gehou.
# Die Amerikaanse president, Joe Biden, het die Presidensiële Vryheidsmedalje toegeken aan die uittredende sekretaris-generaal van NAVO, Jens Stoltenberg. Dit is Amerika se hoogste burgerlike eerbetoning. Die voormalige Noorweegse eerste minister was sedert 2014 in die posisie. Die voormalige eerste minister van Nederland, Mark Rutte neem in Oktober by hom oor. Biden sê Navo is sterker danksy Stoltenberg se werk:
# En ten slotte: Universal Pictures en DreamWorks Animation het aangekondig dat werk aan Shrek 5 amptelik begin het met Mike Myers, Eddie Murphy en Cameron Diaz wat hul ou sal rolle hervat. Die eerste Shrek-fliek wat op William Steig se 1990-kinderboek met dieselfde titel gegrond is, is in 2001 vrygestel. Myers is die stem van die trol in die titelrol, Murphy sy vriend Donkey, en Diaz prinses Fiona. Die vyfde Shrek-fliek met Walt Dohrn as regisseur, sal volgens plan op 1 Julie 2026 vrygestel word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….