Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Twaalf Gautengse skoolkinders sterf in ‘n ongeluk
# Minister Macpherson onthul reuse-kuberdiefstal by die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur
# En, padwedlope: Maatreëls word ingestel om kullery in die Comrades-marathon te verhoed
# Die Gautengse LUR vir Onderwys, Sport, Kultuur en Ontspanning, Matome Chiloane, is hartseer oor die dood van 12 leerders vanoggend in ‘n ongeluk in Merafong. Elf leerders van die Laerskool Rocklands en een van Laerskool Blyvooruitsig in Carletonville is onder die slagoffers, asook die bestuurder. Sewe leerders is beseer. Woordvoerder Steve Mabona sê die kinders se minibus het met ‘n bakkie gebots:
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het reuse-kuberdiefstal van minstens 300-miljoen-rand die afgelope dekade onthul. In die jongste aanval in Mei is 24-milljoen-rand gesteel. Vier amptenare is geskors, en 300 skootrekenaars is in beslag geneem. Macpherson sê ‘n volledige forensiese ondersoek is aan die gang, waarby die Valke, die polisie, die Staatsveiligheidsagentskap en kubersekerheidskenners betrokke is:
# Die soektog na die adjunk-direkteur van die Departement van Water en Sanitasie, Sello Machitje, duur voort na daar Maandag aangemeld is hy is gekaap. Machitje is vyf-uur die middag van sy huis af weg op pad na die Oos-Kaap, maar het nooit opgedaag nie. Die polisie-woordvoerder Noxolo Kweza bevestig ‘n vermiste persoon-saak is aanhangig gemaak. Die polisie en privaat sekerheid het Machitje se voertuig opgespoor in Alexandra, Johannesburg, waar ‘n 53-jarige verdagte aangekeer is vir die besit van ‘n gesteelde voertuig.
# Padwedlope: Die adjunkpresident van KwaZulu-Natal-atletiek, Mandla Mngomezulu, het maatreëls aangekondig om kullery te keer in die Comrades-marathon, na bewerings wat ondersoek is deur die Comrades-marathon-vereniging. Die maatreëls sluit in die instel van tegnologie, tegniese beamptes op die roete, foto’s en video’s, en tydmatte om mense uit te ken wat die roete kortknip. Mngomezulu sê die plan wil die integriteit van die ultra-marathon behou en aansprake hanteer van bedrieglike kwalifikasies wat deur deelnemers ingedien is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-6-sent teen die dollar, 19-rand-54-sent teen die euro en 23-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-400-dollar-54-sent. Die prys van goud is twee-duisend-373-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-78-sent per vat.
# Ten slotte: President Cyril Ramaphosa het hulde gebring aan die anti-apartheid-aktivis en voormalige president van die Suid-Afrikaanse Sportraad, Frank van der Horst, wat op 86 dood is. Ramaphosa sê Van der Horst se sterfte herinner almal aan ‘n era van basiese, nierassige en inter-sektorale weerstand teen apartheid, en internasionale ondersteuning vir die land se stryd. Die president voeg by die nasie is dankbaar vir die stryd wat Van der Horst met moed, beginsels en klarigheid gevoer het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….