Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Freedom Under Law gaan John Hlophe se verkiesing tot die Regterlike Dienskommissie uitdaag
# Julie-reënvalrekords in die Wes-Kaap word oortref
# En, geen ernstige weer-verwante voorvalle is oornag in Kaapstad aangemeld nie
# Freedom Under Law sê hy gaan die Parlement se besluit in die hof betwis om John Hlophe van die MK-party as sy verteenwoordiger op die Regterlike Dienskommissie te verkies. Die afgedankte Wes-Kaapse regter-president is een van ses lede van die Nasionale Vergadering wat op dié kommissie sal dien. Freedom Under Law sê dis onvanpas en irrasioneel om ‘n persoon wat aan growwe wangedrag skuldig bevind en uit sy regs-amp verwyder is, nou aan te stel om oor die geskiktheid van kandidate vir regsposisies te besluit.
# Julie se reënvalrekords in die Wes-Kaap is oortref vanweë ‘n reeks koue fronte wat stormwind, swaar sneeuval en reën tot gevolg gehad het. Nuwe reënvalrekords vir die maand is by weerstasies in Elim, Swellendam en Tulbagh opgestel. Elim het die hoogste reënval in agt jaar van 70.2 millimeter ontvang, Tulbagh 69,8 en Swellendam 30,4. ‘n Weerkundige, Annette Botha, sê hoewel temperature in die ooste behoort toe te neem, gaan die Wes-Kaap dié week nog twee fronte moet trotseer.
Stad Kaapstad se rampbestuursentrum sê intussen hulle het oornag geen ernstige berigte ontvang van skade of ander probleme wat deur die weer veroorsaak is nie. Die Wes-Kaap loop steeds deur onder koue weer, swaar reën en oorstromings. Die sentrum se woordvoerder, Sonica Lategan, sê volgens raming is meer as 14-duisend strukture in informele nedersettings tot dusver deur oorstromings of windskade geraak:
# Tshwane se Gesondheidsdepartement doen ‘n beroep vir groter bewustheid oor die belangrikheid van kontakopsporing om A-pokke-besmettings te bekamp. Daar is landwyd 20 gevalle waarvan tien in Gauteng. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsveiligheid, Grandi Theunissen, sê al die gevalle in Tshwane is plaaslik oorgedra met geen rekords van reisgeskiedenis nie. Hy voeg by kontakopsporing word opgeskerp:
# Sokker: Die voormalige doelskieter van Liverpool, Newcastle en Wallis, Craig Bellamy, is aangestel as nuwe hoof-afrigter van Wallis se nasionale span, met ‘n kontrak tot 2028. Hy vervang Rob Page, wat afgedank is nadat Wallis nie vir Euro 2024 kon kwalifiseer nie. Die 44-jarige Bellamy verlaat Burnley, waar hy verlede seisoen die voormalige bestuurder Vincent Kompany se assistent was toe hulle afgeskuif is uit die Premierliga.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-8-sent teen die dollar, 19-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-758-dollar-93-sent. Die prys van goud is twee-duisend-371-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….