Nuus 08:00
BULLETIN 10 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Business Leadership SA beklemtoon die belangrikheid van bestendigheid op provinsiale vlak
# Numsa en Gautrein gaan by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie vergader
# En rugby: Die Junior Bokke haal nie die halfeindstryd in die Onder 20-Kampioenskap nie
# Business Leadership South Africa sê alhoewel dit noodsaaklik is dat die regering van nasionale eenheid op nasionale vlak bestendig is en op dienslewering fokus, is dit op provinsiale vlak net so belangrik. Provinsies is verantwoordelik vir ‘n groot deel van die nasionale besteding. Gauteng en KwaZulu-Natal dra met byna 50-persent die meeste by tot die nasionale ekonomie. Die organisasie se uitvoerende hoof, Busiswe Mavuso, sê koalisievennote in provinsies moet ook fokus op die openbare belang en dienslewering, en partypolitiek eenkant laat.
# Die MK-party se jeugliga verwelkom John Hlophe se aanstelling op die Regterlike Dienskommissie. Die Wes-Kaapse regterpresident, wat in ʼn staat van beskuldiging geplaas is, is in die Nasionale Vergadering gekies om op die kommissie te dien ten spyte van verskeie partye soos die DA, IVP en ATM se teenkanting. Die jeugliga se woordvoerder, Nkateko Mkhabela, sê Hlophe se aanstelling is nodig om veranderinge te bring aan die gekaapte regbank:
# Die metaalwerkersvakbond, Numsa, het ingestem tot ʼn bemiddelingsproses met Gautrein by die Kommissie vir Versoening Bemiddeling en Arbitrasie. Werkers wat aan die vakbond behoort, het Maandag begin staak en eis onder andere ʼn hersiene verhoging van nege-persent en gewaarborgde bonusse. Die vakbond verteenwoordig 286 van 300 werkers by Gautrain. Numsa se woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê hulle sal met ʼn oop gemoed aan die bemiddelingsproses deelneem om ʼn vinnige oplossing vir die staking te vind:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….
# President Joe Biden van Amerika het by die opening van die Navo-beraad in Washington gesê lande van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie sal Oekraïne van vyf nuwe strategiese lugafweerstelsels voorsien. Amerika en ander lande sal ook tientalle kort- en mediumafstandstelsels aan Oekraïne gee om Kiëf te help om Russiese missiele en hommeltuie te onderskep. Biden sê die oorlog sal eindig en Oekraïne sal ʼn vry en onafhanklike land bly en voeg by Rusland sal nie wen nie:
# Rugby: Die Junior Springbokke kon nie die halfeindronde van Wêreldrugby se Onder 20-kampioenskap in Kaapstad haal nie. Hulle het met 17-12 teen Engeland verloor. Suid-Afrika moes met ʼn bonuspunt en punteverskil van minstens 13 wen om na die laaste vier deur te dring. Hulle kom Sondag teen Argentinië te staan om hopelik die vyfde plek te haal. In die halfeindronde spook Engeland en Ierland sake uit terwyl Nieu-Seeland en Frankryk mekaar sal pak.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-13-sent teen die dollar, 19-rand-63-sent teen die euro en 23-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-991-dollar-60-sent. Die prys van goud is twee-duisend-367-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-41-sent per vat.