Nuus 06:00
BULLETIN 10 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ondersoek word ingestel ná die dood van ‘n SANW-lid in die DRK
# Die MK-party sê Hlophe se regservaring maak hom uiters geskik vir die Regterlike Dienskommissie
# En rugby: Ierland vlieg twee spelers in voor die Durban-toets
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag het ‘n ondersoek van stapel gestuur na die dood van een van sy lede by ‘n basis in Beni, in die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo. Die SANW-lid is Maandag dood in ’n handgranaatontploffing naby hul slaapkwartiere. Weermagwoordvoerder, Siphiwe Dlamini, sê die identiteit van die oorledene sal bekend gemaak word nadat die gesin in kennis gestel is:
# Die MK-party het sy besluit om John Hlophe te nomineer om in die Regterlike Dienskommissie te dien, verdedig en sê hy is hoogs gekwalifiseerd vir die rol. Die regter wat in ‘n staat van beskuldiging is, is verkies om die Parlement te verteenwoordig. Die kommissie het Hlophe skuldig bevind aan growwe wangedrag, wat tot sy skorsing gelei het. MK se hoofsweep, Sihle Ngubane, sê Hlophe se regservaring maak hom uiters geskik vir die pos:
# Die ANC beklemtoon die dringende behoefte aan hernude multilateralisme te midde van globale konflikte. Die party kritiseer die mislukking van multilaterale liggame om konflikte in die Midde-Ooste en Oos-Europa op te los, en vra leierskap met visie. Die ANC herbevestig Suid-Afrika se toewyding aan vrede, geregtigheid en internasionale wette, en verdedig die regte van Palestyne. Intussen het die party ook Brittanje se Arbeidersparty en die Nuwe Populêre Front in Frankryk gelukgewens en gevra die nuwe leiers moet optree teen armoede, ongelykheid en klimaatsgeregtigheid, as noodsaaklike globale uitdagings.
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het talle reëlings getref vir leerders wie se skole deur die gure weer beskadig is. Die departement het leerders, personeel en onderwysers vir die derde kwartaal verwelkom in deurnat toestande en koue weer. Die woordvoerder van die departement, Bronagh Hammond, sê vyf skole is steeds gesluit weens oorstromings en skade aan die geboue. Die departement werk saam met die weerdiens en rampbestuur:
# Die stadsraad van Johannesburg het teen ‘n lening van 2,5-miljard-rand van die Franse Ontwikkelingsagentskap gestem. Die lening was bedoel vir kapitaalbestedingsprojekte. Altesaam 118 raadslede het teen die lening gestem, terwyl 111 raadslede ten gunste was. Drie raadslede het buite stemming gebly. Die DA, EFF, ActionSA en die GOOD-party het daarteen gestem en kommer uitgespreek oor die finansiële gevolge van die langtermyn-terugbetalings vir inwoners. Die burgemeesterskomiteelid vir Finansies, Dada Morero is teleurgesteld dat die EFF teen die lening gestem het.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus kon ‘n onveranderde opdrafspan aankondig vir Saterdag se tweede toets teen Ierland in Durban, maar die Ierse breier, Andy Farrell, was nie so gelukkig nie. Die skrumskakel Nathan Doak en die haker Dave Heffernan het by die besering-geteisterde span aangesluit om Craig Casey en Dan Sheehan te vervang, wat nie kan speel nie. Die stut Andrew Porter is in die beginspan ondanks ‘n sny aan die hand. Die senters Robbie Henshaw en Bundee Aki, die vleuel James Lowe en die heelagter Jamie Osborne moet nog fiksheidstoetse slaag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-63-sent teen die euro en 23-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-500-dollar-84-sent. Die prys van goud is twee-duisend-364-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….