Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 9 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Vergadering keur John Hlophe se benoeming goed vir die Regterlike Dienskommissie
# ActionSA is bekommerd omdat die Oos-Kaapse ekonomie in resessie is
# En, rugby: Rassie Erasmus kies die mees ervare span in Springbok-geskiedenis vir die tweede toets teen Ierland in Durban
# Die Nasionale Vergadering het ‘n mosie goedgekeur vir die MK-party se parlementêre leier, John Hlophe, om in die Regterlike Dienskommissie te dien ondanks besware van die DA, die ACDP en die VF Plus. Sy benoeming het gemengde reaksie ontlok nadat hy as regter-president van die Wes-Kaap afgedank is omdat hy probeer het om regters van die Konstitusionele Hof te beïnvloed in ‘n saak van oudpresident Jacob Zuma. Die EFF se adjunkpresident, Floyd Shivambu, sê Hlophe is geskik weens sy doktorsgraad van Cambridge:
# ActionSA in die Oos-Kaap is bekommerd oor die provinsie se finansiële toestand. ‘n Verslag van die Oos-Kaapse Maatskaplik-ekonomiese Adviesraad toon die provinsie het in die eerste kwartaal vanjaar ʼn resessie binnegegaan. Meer as 77-duisend werkers het in die eerste kwartaal hulle werk verloor, wat tot ʼn provinsiale werkloosheidsyfer van 42,4-persent gelei het. Athol Trollip van ActionSA sê dringende optrede is nodig om die situasie om te keer:
# Die Gauteng LUR vir Onderwys, Sport, Kuns, Kultuur en Ontspanning, Matome Chiloane, sê die departement doen alles moontlik om seker te maak alle aansoekers vir graad 1 en 8 word vir die 2025-akademiese jaar geplaas. Chiloane het die media in Midrand ingelig oor 2025 se aanlyn toelatings. Hy sê aansoekers wat nie toegang het tot internet of hulpbronne wat nodig is om aansoek te doen nie, kan aanklop by enige van die 80 instapsentrums in die 15 onderwysdistrikte, waar amptenare hulle met aansoeke sal bystaan:
# China het uitgevaar teen NAVO nadat die verdedigings-alliansie se hoof hom beskuldig het dat hy Rusland se oorlog in Oekraïne steun. Dit het gebeur op die vooraand van ‘n driedaagse beraad in Washington waar die Amerikaanse president, Joe Biden, leiers van die 32 lidlande van die Trans-Atlantiese alliansie ontvang, sowel as die leiers van Australië, Nieu-Seeland, Japan en Suid-Korea. NAVO se sekretaris-generaal, Jens Stoltenberg, sê China, Iran en Noord-Korea steun Rusland se oorlog in Oekraïne. China sê NAVO gebruik hom as verskoning om ooswaarts te beweeg en streekspanning te verhoog.
# Rugby: Hoofafrigter Rassie Erasmus het die mees ervare span in die geskiedenis van die Springbokke gekies toe hy dieselfde wedstrydgroep van 23 spelers behou het wat Ierland verlede week in Pretoria 27-20 verslaan het. Erasmus het ‘n onveranderde opdrafspan aangewys met altesaam 990 toetse agter hulle naam vir Saterdag se tweede toets in Durban. Damian de Allende en Jesse Kriel sal die mees ervare senterpaar in die Suid-Afrikaanse geskiedenis word wanneer hulle saam die 30ste keer die middelveld beman.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-17-sent teen die dollar, 19-rand-66-sent teen die euro en 23-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-336-dollar-47-sent. Die prys van goud is twee-duisend-360-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-38-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….