Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 9 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die voorverhoordatum is vasgestel vir Nosiviwe Mapisa-Nqakula se korrupsie-verhoor
# Die Staatsdienskommissie versoek gevolge vir die regering se versuim om diensverskaffers betyds te betaal
# En, rugby: Die Bokke teiken die afbreekpunte sodat Ierland nie die spel kan vertraag nie
# Die voorverhoordatum vir die gewese speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, se korrupsiesaak is vir 16 Oktober vasgestel in die Hooggeregshof in Pretoria. Sy is uit op borgtog van 50-duisend-rand. Mapisa-Nqakula staan tereg op 12 aanklagte van korrupsie en een van geldwassery. Sy word daarvan beskuldig dat sy twee-miljoen-rand se omkoopgeld ontvang het van ‘n kontrak toe sy minister van Verdediging was. Mapisa-Nqakula word alleen aangekla nadat die staat besluit het om nie enigiemand anders te vervolg nie.
# Die Staatsdienskommissie is besorg oor die regering se versuim om diensverskaffers betyds te betaal, soos uitgewys in die onlangse verslag van die Tesourie. Fakture ten bedrae van meer as 10-miljard-rand van die finansiële jaar 2023/24 is steeds nie betaal nie en dit het ‘n uitwerking op ondernemings. Departemente soos Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, en Openbare Werke is hieroor uitgewys. Kommissaris Anele Gxoyiya benadruk die noodsaaklikheid van aanspreeklikheid en stel gevolge voor vir rekenpligtige amptenare wat die bepaling van betalings binne 30-dae oorskry.
# President Cyril Ramaphosa het sy hartseer uitgespreek oor die dood van vier lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag in Noordwes. Hulle is Vrydag vermoedelik aan koolstofmonoksied-vergiftiging dood in Orkney. Die soldate was ontplooi op ‘n 24-uur-skof by ʼn ongebruikte mynskag naby die verlate Harry Oppenheimer-stadion. Die gebied is berug vir onwettige mynbedrywighede. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die president se gedagtes is ook by die span soldate wat op hulle kollegas afgekom het:
# Rugby: Die afbreekpunte sal ‘n groot fokuspunt wees vir die Springbokke wanneer hulle Saterdag in Durban in die tweede en laaste toets teen Ierland speel. Die Bokke het in die eerste kragmeting met 27-20 geseëvier ten spyte van ‘n verbete poging van die Iere om die bal by die afbreekpunte te vertraag. Aanvalsafrigter Tony Brown sê Suid-Afrika moet meer akkuraat wees om beter aanvalsgeleenthede te skep:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-12-sent teen die dollar, 19-rand-61-sent teen die euro en 23-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-506-dollar-44-sent. Die prys van goud is twee-duisend-362-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-30-sent per vat.
# Ten slotte: Die INRIX Global Traffic Scorecard het Kaapstad negende uit 100 stadsgebiede geplaas wat verkeersopeenhopings betref. INRIX meet verkeersdruk deur die getal ure wat tydens spitstyd verlore gaan te vergelyk met dié buite spitstyd relatief tot ʼn stad se bevolking. Die Moederstad met sy bevolking van 4,6-miljoen mense is volgens die TomTom-verkeersaanwyser ook tweede in Afrika wat verkeersdruk betref. Die stad sê hy gaan oor die volgende drie jaar 444-miljoen-rand bestee om verkeersopeenhopings te bekamp.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….