Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 9 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Musi Maimane waarsku teen ‘n gebrek aan geloofwaardige opposisie in die Parlement
# Die Stad Kaapstad sê oorstromings hou verband met verstopte afvoerwater-infrastruktuur
# En, krieket: Rohit Sharma bly aan as Indië se toets- en eendag-kaptein na sy uittrede uit T20’s
# Build One SA se leier, Mmusi Maimane, sê ‘n doeltreffende en beginselvaste opposisie moet altyd as patrioties gevier word en net so belangrik wees as diegene in die uitvoerende deel van die regering. Hy skryf in ‘n artikel vir Daily Maverick die nuwe bedeling beteken die rol van ʼn opbouende opposisie is noodsaaklik, want 70-persent van die Parlement is nou deel van die regering van nasionale eenheid. Maimane sê as hulle nie ʼn geloofwaardige opposisie skep nie, kan ʼn ander vorm van staatskaping ontstaan.
# Die Stad Kaapstad sê baie van die oorstromings wat gemeenskappe raak, hou regstreeks verband met die verstopte afvoerwater-infrastruktuur. Swaar reën sak steeds oor die stad uit, wat oorstromings tot gevolg het, terwyl sterk wind ook waai. Die burgemeesterskomiteelid vir Stedelike Beweeglikheid, Rob Quintas, sê spanne werk onverpoosd om sowat strate op te ruim, met Khayelitsha en die Kaapse Vlakte wat die ergste geraak is:
# ‘n Ondersoek is van stapel gestuur nadat ‘n Spaanse toeris in die Pilanesberg Nasionale Park in Noordwes deur ‘n olifant gedood is. Die 43-jarige man het uit sy motor geklim om die dier van nader te beskou. Noordwes se Parke- en Toerismeraad sê ooggetuies het verklaar die olifantkoei het op die man afgestorm en hom aangeval, vermoedelik om haar trop te beskerm. Die polisiewoordvoerder, Sabata Mokgwabone, sê die man was saam met drie ander toe die voorval plaasgevind het:
# Krieket: Die beheerliggaam in Indië het bevestig Rohit Sharma sal steeds die toets- en eendagspanne aanvoer nadat hy sy loopbaan in T20 internasionale krieket beëindig het toe Indië onlangs die Wêreldbeker verower het. Die 37-jarige, asook die voormalige kaptein, Virat Kohli, en Ravindra Jadeja het hulle uittrede aangekondig na die oorwinning oor Suid-Afrika in Barbados. Die liggaam sê Sharma het die land tot sy derde eindstryd die afgelope jaar aangevoer nadat hulle ook die eindstryd van die Eendag-Wêreldbekertoernooi en Wêreld Toetskampioenskap gehaal het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-9-sent teen die dollar, 19-rand-57-sent teen die euro en 23-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-446-dollar-41-sent. Die prys van goud is twee-duisend-361-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-34-sent per vat.
# Ten slotte: Universal Pictures en Illumination se Despicable Me 4 het die eerste naweek ná sy vrystelling in teaters tot boaan die Noord-Amerikaanse lokettrefferlys geklim. Die fliek met Steve Carell in die hoofrol, het binne drie dae meer as ‘n miljard-rand verdien. Dis meer as wat Shrek, Toy Story en Frozen gemaak het en is die konsessie wat die 15de meeste geld ooit verdien het. Disney en Pixar se Inside Out 2 is tweede met meer as 543-miljoen-rand en die apokaliptiese riller, A Quiet Place: Day One, is derde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….