Nuus 08:00
BULLETIN 9 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Politieke partye moet teen môre verklarings indien in die African Transformation Movement se verkiesingsaak
# Die minister van Toerisme bepleit ‘n nasionale strategie om lugvervoer ‘n hupstoot te gee
# En die VN se Menseregtekantoor vra vir ‘n ondersoek na die jongste Russiese lugaanvalle
# Die Verkiesingshof het 19 politieke partye tot môre tyd gegee om beantwoordende verklarings in te dien in die African Transformation Movement se saak. Die party eis dat verkiesing weer gehou word en vra die hof om die Mei-verkiesing ongeldig te verklaar. Die leier van die ATM, Vuyo Zungula, beweer die party was die slagoffer van foute met die tel van stemme, stemknoeiery en kieserskorrupsie. Hy sê die Verkiesingskommissie se misstappe tydens die verkiesing beteken die land staan voor ‘n grondwetlike krisis.
# Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, vra vir ‘n nasionale strategie om meer lugrederye na Suid-Afrika te lok, met die doel om toerisme en ekonomiese groei ‘n hupstoot te gee. De Lille het gewys op die rol van die lugvaartbedryf vir volhoubare die volhoubare groei van toerisme en planne bekendgemaak vir ‘n verenigde lugtoegangstrategie. Sy wag ook op die besluit van president Cyril Ramaphosa oor die toekoms van die Suid-Afrikaanse Lugdiens by die kabinet-lekgotla, na die ontbinding van die Departement van Openbare Ondernemings:
# Die Stad Tshwane sê die opgradering van die Rooiwal-watersuiweringsaanleg toon aansienlike vordering. ‘n Nuwe diensverskaffer is aangestel en ʼn groot deel van die werk behoort teen 2026 voltooi te wees. Die burgemeesterskomiteelid vir Nutsdienste, Streek-operasies en Koördinering, Themba Fosi, sê die vordering sluit in verbeterde sekuriteit by die perseel, beter toerustingbestuur en voortgaande uitpomp van rioolwater:
# Die Verenigde Nasies se Menseregtekantoor vra ʼn onmiddellike, deeglike en onafhanklike ondersoek na die jongste Russiese missielaanvalle in Oekraïne. Meer as 30 mense is dood en 140 beseer in gister se aanvalle op stede reg oor Oekraïne. Die land se grootste kinderhospitaal is ook beskadig. Rusland ontken aanspreeklikheid vir die sterftes. Die VN se hoof van Menseregte, Volker Türk, sê burgerlikes moet beskerm word en oorlogswette moet te alle tye nagekom word.
# Tennis: Die sewemalige kampioen, Novak Djokovic, is deur na sy 15de kwarteindronde by Wimbledon. Die Serwiër het Holger Rune van Denemarke met 6-3, 6-4, 6-2 geklop om ʼn kragmeting met die Australiër Alex de Minaur te bespreek. Die Amerikaner Taylor Fritz was twee stelle agter, maar het die vierde gekeurde Duitser, Alexander Zverev, uiteindelik met 4-6, 6-7, 6-4, 7-6, 6-3 verslaan. In die vroue-afdeling kom die Russies-gebore Kazak en 2022-kampioen, Elena Rybakina, in die kwarteindronde teen Elina Svitolina van Oekraïne te staan. Djokovic sê hy is tevrede met sy spel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-12-sent teen die dollar, 19-rand-63-sent teen die euro en 23-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-en-drie-dollar-59-sent. Die prys van goud is twee-duisend-365-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….