Nuus 11:00
BULLETIN 7 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die regering kan nog nie die moontlikheid van verdere beurtkrag uitsluit nie
# ‘n Uitsaaivakbond wil groter aanspreeklikheid hê vir ‘n geheime SABC-advertensietransaksie
# En Boeing gaan skuldig pleit aan sameswering om die Amerikaanse regering te bedrieg
# President Cyril Ramaphosa sê die kragnetwerk bly onder druk, ongeag die meer as honderd dae dat die land nou sonder beurtkrag is. Eskom het die verbetering toegeskryf aan sy bedryfsherstelplan vir kragopwekking, sy verbeterde instandhoudingsprogram en die beter werking van kragstasies. Die president sê in sy weeklikse nuusbrief die moontlikheid kan nie uitgesluit word dat beurtkrag weer ingestel kan word nie. Ramaphosa het egter bygevoeg die verhoogde betroubaarheid in die kragtoevoer is ‘n hupstoot vir die land se ekonomie.
# Die Kommunikasiewerkersvakbond vra dat meer mense aanspreeklik gehou word nadat die SAUK twee senior hoofde afgedank het oor ‘n geheime ooreenkoms vir ʼn multimiljoen-rand-wins op ʼn digitale kontrak. Die groepsbedryfshoof, Ian Plaatjies, en groepshoof vir videovermaak, Merlin Naicker, is skuldig bevind dat hulle ʼn 7,5-persent winsdeel-klousule in ʼn kontrak ter waarde van 35-miljoen-rand met Discovery Digital geheim gehou het. Die vakbond sê die plundering van die SAUK se finansiële bronne deur skelm kontrakte en vrugtelose en verkwistende uitgawes kan nie voortgaan nie.
# Gauteng se LUR vir Finansies, Lebogang Maile, sê daar sal geen verdraagsaamheid wees teenoor onderbesteding of korrupsie nie. Hy het op eNCA die belangrikheid beklemtoon van behoorlike tenderprosesse, en stel finansiële steun vir gesondheid, onderwys, infrastruktuur, behuising en misdaad voorop. Maile bevestig ook die voortsetting van die Nasi iSpani-werksgeleenthede-veldtog in die provinsie:
# Boeing het ingestem om skuldig te pleit aan sameswering om die Amerikaanse regering te bedrieg oor twee noodlottige vliegongelukke in Indonesië en Ethiopië waarby sy 737 Max-vliegtuig betrokke was. Die twee ongelukke in 2018 en 2019 was byna identies en het die lewens van 346 passasiers en bemanningslede geëis. Aanklaers het Boeing in 2021 aangekla van sameswering om reguleerders te bedrieg en beweer hy het die Federale Lugvaart-administrasie bedrieg oor die outomatiese beheerstelsel op die Max. Amerika se Departement Justisie sê Boeing het ook ingestem om ʼn boete te betaal.
# Gholf: Die Amerikaner Davis Thompson en Ewen Ferguson van Skotland het hul plek in die 152ste Britse Ope-Kampioenskap op Royal Troon beklink. Die 25-jarige Thompson het in die laaste ronde sewe-onder-baansyfer 64 aangeteken om die John Deere Classic in Illinois met vier houe te wen. Dit is sy eerste oorwinning op die PGA-toer. Ferguson het die BMW Internasionale Ope in München, Duitsland, met twee houe gebuit. Die Ope begin volgende Donderdag. Thompson sê hy is bly sy harde werk word uiteindelik beloon:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-17-sent teen die dollar, 19-rand-67-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 55-duisend-672-dollar-15-sent. Die prys van goud is twee-duisend-376-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….