Nuus 09:00
BULLETIN 8 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Jeugliga van die MK-party veroordeel die aanvalle op John Hlophe en Duduzile Zuma
# Die uitvoerende hoof van Eskom vertrou op ‘n finansiële verbetering
# En Starmer kanselleer Sunak se omstrede plan om asielsoekers na Rwanda te stuur
# Die Jeugliga van die MK-party het die volgehoue aanvalle op sy parlementslede – sy hoofsweep, John Hlophe en Duduzile Zuma veroordeel. Die party is gekritiseer vir sy benoeming van die geskorste hoofregter van die Wes-Kaap – Hlophe – tot die Regterlike Dienskommissie. Zuma word op haar beurt daarvan beskuldig dat sy slegs in die posisie aangestel is omdat haar pa die gewese president Jacob Zuma is. Die jeugleier van die MK-party, Nkateko Mkhabela, sê dié aanvalle is ongegrond:
# Eskom se uitvoerende hoof, Dan Marokane, sê ‘n einde aan beurtkrag sal beteken dat die kragverskaffer volgende jaar ʼn wins kan toon. Eskom staar volgens berigte ʼn jaarlikse verlies van 15-miljard-rand in die gesig, wat grootliks toegeskryf word aan dieselaankope van 33-miljard-rand. Die kragverskaffer het 100 dae sonder beurtkrag gehad weens sy multidimensionele opwekkingsherstelplan. Marokane sê hulle gebruik minder diesel en indien hulle dit kan volhou, sal daar vanjaar ʼn aansienlike finansiële verbetering wees.
# Polisie in KwaZulu-Natal het twee verdagtes gearresteer in verband met die verkragting van en moord op ʼn tiener van Umlazi, Wandile Aphiwe Ngcobo. Die polisiewoordvoerder, Jay Naicker, sê die verdagtes het volgens berigte in Mei by die 17-jarige Wandile se huis ingebreek terwyl sy tuis was. Hy sê haar pa, Mondli Ngcobo, se bure het hom per telefoon in kennis gestel dat ʼn onbekende persoon met ʼn balaklawa sy huis met ʼn televisie verlaat het:
# Brittanje gaan miljoene-pond verloor wat bestee is op die voormalige eerste minister Rishi Sunak se omstrede plan om asielsoekers in Rwanda te hervestig. Dit volg nadat die nuwe Arbeiders-premier, Keir Starmer die plan gekanselleer het nadat sy party Sunak se Konserwatiewes oorweldigend verslaan het in die verkiesing. Starmer sê net omtrent een-persent van asielsoekers sou verwyder gewees het, wat beteken die beleid sou nie ‘n afskrikmiddel gewees het nie. Reuters berig hy staan ook voor uitdagings soos die verbetering van sukkelende openbare dienste en die herlewing van ‘n swak ekonomie.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een van Italië, Jannik Sinner, en die verdedigende kampioen van Spanje, Carlos Alcaraz, is deur na die Wimbledon-kwarteindronde. Sinner het die Amerikaner, Ben Shelton, met 6-2, 6-4, 7-6 afgeransel terwyl Alcaraz die Fransman, Ugo Humbert, met 6-3, 6-4, 1-6, 7-5 verslaan het. In die vroueafdeling het Coco Gauff van Amerika met 6-4, 6-3 teen haar landgenoot, Emma Navarro, verloor terwyl die Nieu-Seelandse kwalifiseerder, Lulu Sun, met die Britse promotorskeuse, Emma Raducanu, afgereken het. Navarro verduidelik wat sy reg gedoen het in die wedstryd:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-16-sent teen die dollar, 19-rand-67-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 55-duisend-278-dollar-27-sent. Die prys van goud is twee-duisend-383-dollar-5-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 86-dollar-38-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….