Nuus 13:00
BULLETIN 7 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Numsa vra werkers van Ford Suid-Afrika om vir werk aan te meld na ‘n hof-interdik
# Cosatu vra die Parlement vir morele standvastigheid teen LPs wat oortree
# En, tennis: Sinner en Alcaraz is vandag op die baan in Wimbledon se ronde van 16
# Die metaalwerkersvakbond Numsa vra alle werkers van Ford Suid-Afrika om môre terug te keer werk toe nadat die Arbeidshof ‘n tussentydse interdik toegestaan het wat hulle staking verbied. Die nasionale woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê ‘n verhoor op 28 Augustus sal die permanentheid van die interdik bepaal. Sy vra die werkgewer om aandag te gee aan werkers se griewe:
# Cosatu vra die Parlement vir morele uitnemendheid met die hantering van lede wat oortree. Hulle noem die MK-party se hoofsweep, die afgedankte regterpresident van die Wes-Kaap, John Hlophe, wat benoem is vir die Regterlike Dienskommissie, asook die geskorste DA-LP Renaldo Gouws, wat van haatspraak aangekla word. Matthew Parks van Cosatu kritiseer die Parlement se toegeeflikheid teenoor wangedrag, haatspraak en korrupsie, en eis strenger reëls en aanspreeklikheid:
# Die voormalige Britse minister van Binnelandse Sake, Suella Braverman, pak die skuld vir die Konserwatiewes se verkiesings-nederlaag op die gewese eerste minister, Rishi Sunak. Sy sê sy idiotiese strategie het kiesers soos gekke behandel. Die Arbeidersleier, Keir Starmer, is die nuwe eerste minister na sy party se oorweldigende oorwinning Donderdag. Braverman, wat glo voorberei om aanspraak te maak op die party-leierskap na Sunak se bedanking, sê die Tories het verdien om te verloor. Sy voer ook hoë belasting, hoë immigrasie en belaglike politieke korrektheid aan as redes vir die uitslag.
# Tennis: Die twee mans-gunstelinge op Wimbledon, die wêreld nommer-een Jannik Sinner van Italië en die derde-gekeurde verdedigende kampioen, Carlos Alcaraz van Spanje, bly op koers vir ‘n botsing later in die toernooi. Sinner speel vandag in die ronde van 16 teen die Amerikaner Ben Shelton nadat hy Miomir Kecmanovic van Serwië in die derde ronde geklop het. Alcaraz moes oor vyf stelle veg teen die vasberade Amerikaner Frances Tiafoe, en kom teen die Fransman Ugo Humbert te staan vir ‘n plek in die kwarteindronde.
# En ten slotte: Bryoni Govender van Suid-Afrika is op ‘n skouspel in Pole as Mej Supranasionaal Afrika gekroon. Sy is ook aangewys as Mej Vriendskap. Die oorhoofse kompetisie is gewen deur Harashta Haifa Zahra van Indonesië. Deelnemers uit 68 lande en gebiede het deelgeneem aan die glansgeleentheid. Govender, ‘n prokureur van Johannesburg, was verlede jaar die naaswenner van die Mej Suid-Afrika-kompetisie en sê sy het onvermoeid gewerk om haarself geestelik en fisies voor te berei op die skouspel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….