Nuus 09:00
BULLETIN 7 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Kaapstad tree pro-aktief op na ‘n vlak 8-weerwaarskuwing
# Die ATM wil die openbare beskermer se Phala Phala-verslag laat tersyde stel
# En, rugby: Ierland se kaptein, Peter O’Mahony, is teleurgesteld na hulle teen Suid-Afrika verloor
# Die Stad Kaapstad tree pro-aktief op vir die veiligheid van sy inwoners nadat die Weerdiens vandag sy weerwaarskuwing opgradeer het na vlak agt. ‘n Sterk tot stormsterk wind word verwag van tussen 70- en 90-kilometer-per-uur, met rukwinde van meer as 100-kilometer. Woordvoerder Charlotte Powell sê die Rampkoördineringspan hanteer noodgevalle met moontlike strukturele skade. Sy vra inwoners om kusgebiede te vermy:
# Die African Transformation Movement het hofstukke by die Hooggeregshof in Gauteng ingedien om openbare beskermer Kholeka Gcaleka se Phala Phala-verslag tersyde te laat stel. ATM se president, Vuyo Zungula, voer aan Gcaleka se ondersoek na president Cyril Ramaphosa se optrede was gebrekkig en is beïnvloed deur ‘n belange-botsing. Hy beweer die uitkoms was vooraf bepaal en die ondersoek was nie deeglik nie. Zungula lig swak prosedure uit en bevraagteken die integriteit daarvan.
Die organisasie Citizens Forum vra Ramaphosa intussen om staatsbegrafnisse te staak weens korrupsievrese. Dit volg nadat Gcaleka se verslag onthul het meer as drie-miljoen-rand is bestee aan die begrafnis van die Vrystaatse LUR vir Onderwys, Tate Makgoe. Gcaleka het afgekom op onreëmatighede soos oorbesteding en ‘n gebrek aan die voorkoming van oormatige uitgawes. Haar kantoor onderstreep voldoening met behoorlike prosedures vir toekomstige amptelike begrafnisse. Die forum se woordvoerder, Dennis Bloem, voer aan begrafnisse waarvoor belastingbetalers betaal kan nie regverdig word nie.
# Rugby: Ierland se kaptein, Peter O’Mahony, is teleurgesteld nadat hulle met 27-20 verloor het in die eerste toets teen Suid-Afrika op Loftus Versfeld in Pretoria. O’Mahony, wat gehoop het op ‘n herhaling van hulle groepswedstryd-sukses in die Wêreldbekertoernooi teen die Springbokke, erken hulle het foute gemaak in aanval en verdediging. Hy sê hulle sal die foute bestudeer voor Saterdag se tweede toets in Durban:
In Kaapstad sluit die aartsvyande Westelike Provinsie en die Bulle vanmiddag die eerste naweek van die Curriebeker-Premiersafdeling af. Afskoptyd op die Kaapstad-stadion is om 3. Gister het die Cheetahs die Pumas 82-20 afgeransel in hulle kragmeting in Bloemfontein. Die tuisspan het sewe drieë en ‘n strafdrie behaal en die Pumas kon net antwoord met ‘n verdoelde drie, ‘n strafdrie en twee strafskoppe. Die seisoen het Vrydag afgeskop toe die Pumas Griekwas in Kimberley geklop het, terwyl die Leeus die Haaie net-net verslaan het in Durban.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….