Nuus 08:00
BULLETIN 7 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Springbokke vier ‘n oorwinning oor Ierland in die eerste toets in Pretoria
# OPOD ondersoek ‘n polisie-aanval na die dood van ‘n nagskofwerker
# En die Israelse eerste minister stuur sy intelligensie-hoof om samesprekings met Hamas te hervat
# Ons skop af met rugby: Die Springbokke het Ierland met 27-20 verslaan in die eerste van twee toetse, wat op Loftus Versfeld in Pretoria gespeel is. Suid-Afrika was rustyd 13-8 voor, voor die besoekers teruggeveg het. Die televisie-wedstrydbeampte, Ben Whitehouse, het opspraak gemaak met ‘n paar deurslaggewende beslissings, insluitend om Cheslin Kolbe se omstrede drie toe te ken. Die Springbokkaptein, Siya Kolisi, het die span geloof, maar beklemtoon verbetering is nodig voor Saterdag se tweede toets in Durban:
Die Springboksenter Jesse Kriel is aangewys as speler van die wedstryd. Hy is trots op die span se prestasie en dankbaar vir Suid-Afrikaners se steun. Kriel erken ook ondanks die oorwinning nog werk is nodig, en beloof die span sal reg wees vir Saterdag se tweede toets:
# Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat ondersoek ‘n polisie-aanval op ses mans wat in Mei in Midrand, Gauteng, teruggekeer het na nagskofte. Gewapende polisielede het die minibus-taxi aangeval wat hulle vervoer het vanaf ‘n logistiekmaatskappy. Twee mans is geskiet en die ander aangerand. Die 22-jarige Lifalethu Mashazi is Woensdag dood nadat hy sedert die aanval in ‘n koma was. Die polisie het na bewering die mans beskuldig dat hulle buitelanders is. OPOD se woordvoerder, Phaladi Shuping, sê sake van moord, poging tot moord, aanranding en marteling is aanhangig gemaak.
# Die polisie-kommissaris van Limpopo, Thembi Hadebe, reik ‘n waarskuwing uit nadat twee tienerseuns en ‘n 22-jarige man dood is aan vermeende koolstof-monoksiedvergiftiging toe hulle ‘n braai-staander gebruik het om warm te probeer slaap. Hulle liggame is aangetref in hulle huis in Morongoa-park naby Polokwane. Die polisie berig die drietal het hulleself toegemaak in die huis met ‘n braai vol kole. Hadebe maan teen die gebruik van braaiers binnenshuis, wat ‘n groot gevaar inhou.
# En, Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, het sy intelligensiehoof na Katar gestuur om samesprekings met Hamas te hervat wat vroeër vasgeval het. Die hoof van Mossad, David Barne, se vertrek het die hoop laat opvlam vir ‘n skietstilstand in Gaza en die afname van spanning op die grens tussen Israel en Libanon. Dit volg nadat Hamas blykbaar aan sy Libanese bondgenoot, Hizbollah, gesê het hy het ‘n skietstilstands-ooreenkoms aanvaar. Die groep het ook aan Reuters gesê aanvalle sal ophou sodra enige skietstilstands-ooreenkoms in Gaza in werking tree.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….