Nuus 13:00
BULLETIN 6 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa wens die nuwe Britse eerste minister geluk
# Iran kry ‘n hervormer as president na ‘n opvolg-verkiesing
# En, rugby: Die SABC sal nie die Springbokke se toetse teen Ierland op TV uitsaai nie
# President Cyril Ramaphosa het Keir Starmer gelukgewens met sy aanstelling as die nuwe eerste minister van Brittanje. Die Arbeidersleier het na Donderdag se algemene verkiesing oorgeneem by Rishi Sunak, wat intussen bedank het as leier van die Konserwatiewe Party. Die Presidensie se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê Ramaphosa sien uit na die verdere verbetering van die sterk, geskiedkundige betrekkinge tussen Suid-Afrika en Brittanje:
# Die nuwe minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, het sy voorkeure uiteengesit, waaronder klimaatsverandering en finansiering vir energie. George het Barbara Creecy vervang, wat nou die minister van Vervoer is. Hy is vol lof vir haar nalatenskap in die portefeulje. George streef na ‘n soomlose oorgang na ‘n lae koolstof-ekonomie en groei wat werk skep. Hy onderstreep die belangrikheid van volhoubare ontwikkeling vir Suid-Afrika se ekonomiese toekoms:
# ‘n Hartsjirurg wat beskou word as ‘n hervormer is tot nuwe president van Iran verkies. Die 71-jarige Massoud Pezeshkian het die opvolg-verkiesing gewen teen die kragdadige konserwatiewe Saeed Jalili. Geen kandidaat het in die eerste ronde ‘n volstrekte meerderheid gekry nie. Pezeshkian het 53,3-persent van die stemme inge-oes, teenoor Jalili se 44,3-persent. Hy neem oor by Ebrahim Raisi, wat in Mei in ‘n helikopter-ongeluk dood is. Pezeshkian is glo krities teenoor Iran se berugte moraliteitspolisie, en het beloof om die land se afsondering van die res van die wêreld te beëindig.
# Die Rooms-Katolieke Kerk het ‘n ultra-konserwatiewe Italiaanse aartsbikop verban omdat hy pous Franciskus ‘n dienaar van Satan genoem het. Die 83-jarige Carlo Maria Vigano was van 2011 tot ’16 die Vatikaan se ambassadeur in Amerika, maar het later weggekruip nadat hy die pous beskuldig het dat hy geweet het van die Amerikaanse kardinaal Theodore McCarrick se seksuele wangedrag, maar niks daaraan gedoen het nie. Die Vatikaan sê Vigan, wat sy eie gevolg opgebou het, het geweier om die hoof van die kerk te erken of hom aan sy gesag te onderwerp.
# En, rugby: Die SABC het bevestig hy sal nie die twee toetse tussen die Springbokke en Ierland op televisie uitsaai nie. Die openbare uitsaaier sê in ‘n verklaring dit volg op die onlangse saak in die Mededings-appèlhof oor uitsaai-regte, wat hom gedwing het om sy besluit te hersien oor ‘n sub-lisensiërings-ooreenkoms met MultiChoice. Die korporasie sê hy bly toegewy aan die uitsaai van alle sportsoorte van nasionale belang, en verskeie radio-stasies sal al die plaaslike Springboktoetse dra. Vanmiddag se kragmeting in Pretoria skop vyf-uur af.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….