Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# OUTA kritiseer die samestelling van die Gautengse regering
# ‘n Belasting-organisasie waarsku oor strafregtelike aanklagte vir nie-voldoening
# En, rugby: Samoa klop Italië aan die begin van ‘n naweek propvol toetse
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik, OUTA, is baie ongelukkig oor die samestelling van die Gautengse regering, wat die DA uitsluit. Die DA het die ANC daarvan beskuldig dat hy ter kwader trou onderhandel en hom wou uitoorlê om minder posisies te aanvaar. Premier Panyaza Lesufi het Woensdag sy kabinet aangekondig nadat dit vroeër twee keer uitgestel is. OUTA se uitvoerende hoof, Wayne Duvenhage, sê die provinsiale regering is nie ten volle verteenwoordigend nie:
# Tax Consulting SA waarsku dat Suid-Afrikaners wat nie aan belastingwette voldoen nie, strafregtelik aangekla kan word. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens verskerp pogings teen nie-voldoening vir die 2024-belastingseisoen van 15 Julie tot 21 Oktober. Die hoof van Strategiese Verpligtings en Voldoening, Jashwin Baijoo, benadruk dat foute, vals indienings, die versuim om in te dien en belastingontduiking neerkom op strafregtelike oortredings ingevolge die Wet op Belastingadministrasie van 2011. Oortreders kan swaar beboet of gevangenisstraf opgelê word, ongeag hulle status.
# Botswana ontwikkel sy eerste satelliet, BOTSAT-1, in samewerking tussen die land se Internasonale Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie, en die Bulgaarse ruimtemaatskappy EnduroSat. Die lansering is geskeduleer op ‘n SpaceX Transporter-13-sending in Februarie volgende jaar, met die 3U nanosatelliet wat Botswana se landbou- en mynsektore sal steun. Ingenieurs van die universiteit sal by EnduroSat in Bulgarye aansluit vir die bou en integrasie, wat die tegnologie-oordrag uitlig wat sentraal is in die projek. Die satelliet sal van die universiteit af beheer word.
# Rugby: Samoa het Italië verras en die besoekers in Apia 33-25 verslaan aan die begin van ‘n naweek propvol toetse. Die eilandbewoners het ‘n agterstand van 10-punte ingehaal en vier drieë aangeteken teenoor die Azzurri se drie. Italië was vooraf die gunsteling nadat hy gedurende die Sesnasiesreeks met Wallis en Skotland afgereken het. Die oorwinning word as ‘n goeie begin beskou vir die nuwe afrigter en die nuwe kaptein van Samoa, Mahonri Schwalger en Theo McFarland. Italië speel volgende week teen Tonga, gevolg deur ‘n toets teen Japan in Tokio.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-21-sent teen die dollar, 19-rand-71-sent teen die euro en 23-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 55-duisend-276-dollar-85-sent. Die prys van goud is twee-duisend-364-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 87-dollar-26-sent per vat.
# Ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het verskeie waarskuwings uitgereik oor gure weer in die Wes-Kaap die komende dae. Die woordvoerder vir die Stad Kaapstad se Ramprisikobestuursentrum, Charlotte Powell, sê die waarskuwings geld hierdie naweek en sluit in ‘n geel vlak 4-waarskuwing vir ontwrigtende reën Sondag, asook ‘n oranje vlak 6-waarskuwing vir skadelike wind aan die kus en in die binneland, wat tot Maandag sal voortduur:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….