Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die nuwe minister van Basiese Onderwys gaan fokus op leerders se behoeftes en uitdagings
# Rishi Sunak aanvaar verantwoordelikheid vir die Tories se nederlaag in die Britse verkiesing
# En, rugby: Felipe Contepomi bring groot veranderings aan vir Argentinië se toetse teen Frankryk en Uruguay
# Die nuwe minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, sê sy sal die behoeftes van miljoene Suid-Afrikaanse leerders voorop stel. Die DA-lid vervang die nuutaangestelde minister van Verdediging, Angie Motshekga. Gwarube sê dis noodsaaklik om puttoilette uit te skakel en aandag te gee aan 80-persent van graad 4-leerders se onvermoë om met begrip te lees. Sy beklemtoon ook die dringende behoefte aan gehalte onderwys vir almal. Dit bly ‘n ope vraag wat met die BELA-wetsontwerp gaan gebeur, wat die DA ten sterkste teenstaan.
# ‘n Navorser aan die Universiteit van die Wes-Kaap, Celine Doak, sê daar is ‘n gebrek aan spesifieke wetgewing wat die welsyn van die kosbare Suid-Afrikaanse volstruisbedryf en ander kommersiële diere-boerderye reguleer. Doak sê dierewelstand vorm deel van die Wysigingswet op Nasionale Omgewingsbestuurswette, maar dit moet nog ten volle ingestel en afgedwing word. Sy sê Suid-Afrikaanse wetgewers word aangemoedig om kommersiële plaasdiere te beskerm deur ‘n omvattende Wetsontwerp op Dierewelsyn te verseker:
# Die uittredende Britse eerste minister, Rishi Sunak, sê hy aanvaar volle verantwoordelikheid omdat die Konserwatiewe Party die algemene verkiesing verloor het. Die Arbeidersparty en sy leier, Keir Starmer, het die vereiste 326 setels vir die meerderheid in die Laerhuis gekry en daarmee ‘n einde gebring aan 14 jaar se Konserwatiewe regering. Talle Tory-kabinetsministers moes setels aan Arbeiders afstaan, insluitend Grant Shapps en Penny Mordaunt. Sunak sê die mag sal vreedsaam en ordelik oorgedra word:
# Rugby: Argentinië se afrigter, Felipe Contepomi, het ‘n veranderde span aangekondig vir môre se kragmeting met Frankryk in sy eerste toets in beheer van Los Pumas. Hy het na verlede jaar se Wêreldbekertoernooi oorgeneem by die Australiër Michael Cheika. Contepomi het nege veranderings aangebring aan die opdrafspan wat teen Engeland verloor het in die uitspeelstryd om derde plek, en 15 Wêreldbekerspelers uitgelaat vir die twee toetse teen Frankryk en een teen Uruguay. Die vleuel Bautista Delguy speel sy eerste toets sedert November 2022.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-19-sent teen die dollar, 19-rand-70-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 55-duisend-294-dollar-58-sent. Die prys van goud is twee-duisend-363-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 87-dollar-37-sent per vat.
# Ten slotte: Die Wes-Kaapse Bloeddiens vra mense om dringend O-negatiewe bloed te skenk omdat daar ʼn ernstige tekort aan dié soort bloed is, met voorraad vir slegs drie dae. Die diens beklemtoon die uitdaging om tydens die winter en skoolvakansies genoeg bloed in voorraad te hê. Skenkers van 16 tot 75 wat 50 kilogram en meer weeg en gesond is, word aangemoedig om te skenk. Een skenking kan tot drie lewens red. As blyk van waardering ontvang skenkers sokkies met helde op wat die warmte en gemak simboliseer wat hulle aan pasiënte bied.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….