Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Tiener van Mpumalanga word verbind met die moord op twee jong kinders
# Eskom bereik 100 dae sonder beurtkrag
# En, rugby: ‘n Fees van toetse wag vir geesdriftiges die naweek
# Die polisie in Mpumalanga het die liggaam van die driejarige Peaceful Khoza in ‘n vlak graf in Pienaar gevind. Die woordvoerder, Donald Mdhluli, sê sy is vroeër die week as vermis aangemeld. Intussen is ‘n 18-jarige seun in hegtenis geneem in verband met die moord op die meisie en ook dié op die sesjarige Junior Mabandla, wie se liggaam Woensdag ook in ‘n vlak graf ontdek is. Mdhluli sê die verdagte ontvang tans mediese behandeling nadat inwoners hom aangerand het:
# Eskom sê hy het daarin geslaag om 100 opeenvolgende dae sonder beurtkrag te handhaaf, ‘n mylpaal wat die verbeterde betroubaarheid en prestasie van sy opwekkingsvloot weerspieël. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê hierdie prestasie is die gevolg van ‘n multidimensionele geslag operasionale herstelplan, wat in Maart verlede jaar begin is, en aggressiewe beplande instandhouding, wat moontlik gemaak is deur die Nasionale Tesourie se skuldverligtingskema:
# Die SPAR-groep sê hy is daartoe verbind om sy koolstofvrystellings te verminder, maar voeg by die hele bedryf moet saamwerk om verandering teweeg te bring. ‘n McKinsey-studie het onthul sowat 93-persent van die vrystellings is buite die kruidenier se regstreekse beheer. Die voedselstelsel dra by tot meer as 30-persent van die wêreld se kweekhuisgas-vrystellings. ʼn Woordvoerder van SPAR, Kevin O’Brien, sê hulle wil dit aanpak deur saam met boere te werk, verskaffers se pogings te ondersteun en volhoubaarheid te bevorder.
# Die uittredende Britse eerste minister, Rishi Sunak, sê hy aanvaar volle verantwoordelikheid omdat die Konserwatiewe Party die algemene verkiesing verloor het. Die Arbeidersparty en sy leier, Keir Starmer, het die vereiste 326 setels vir die meerderheid in die Laerhuis gekry en daarmee ʼn einde gebring aan 14 jaar se Konserwatiewe regering. Talle Tory-kabinetsministers moes setels aan Arbeiders afstaan, insluitend Grant Shapps en Penny Mordaunt. Sunak sê die mag sal vreedsaam en ordelik oorgedra word:
# Rugby: ‘n Fees van internasionale wedstryde wag die naweek op geesdriftiges. Georgië verwelkom Fidji vanaand in Batumi, terwyl sewe toetse môre gespeel word. Amerika en Roemenië bots in Chicago, gevolg deur kragmetings tussen die All Blacks en Engeland in Dunedin, en die Wallabies en Wallis in Sydney. Dan is daar die langverwagte stryd tussen die Springbokke en Ierland in Pretoria. Argentinië speel in Mendoza teen Frankryk, Chili kom in Talca teen Hongkong te staan, en Kanada en Skotland pak mekaar in Ottawa.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-19-sent teen die dollar, 19-rand-69-sent teen die euro en 23-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 54-duisend-66-dollar-80-sent. Die prys van goud is twee-duisend-365-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 87-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….