Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 5 Julie 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Rugby is eerste aan die beurt: Ierland se hoofafrigter, Andy Farrell, het die nuweling Jamie Osborne as heelagter gekies vir môre se groot kragmeting met die Springbokke op Loftus Versfeld in Pretoria. Dis die eerste van twee toetse tussen Suid-Afrika, wat boaan die wêreldranglys is, en Ierland, wat tweede is. Craig Casey is bo sy spanmaat van Munster, Conor Murray, gekies om op skrumskakel te begin omdat Jamison Gibson-Park die toer weens ‘n dyspier-besering misloop. Farrell is opgewonde oor Osborne se insluiting:
‘n Fees van internasionale wedstryde wag die naweek op geesdriftiges. Georgië verwelkom Fidji vanaand in Batumi, terwyl sewe toetse môre gespeel word. Amerika en Roemenië bots in Chicago, gevolg deur kragmetings tussen die All Blacks en Engeland in Dunedin, en die Wallabies en Wallis in Sydney. Dan is daar die langverwagte stryd tussen die Springbokke en Ierland in Pretoria. Argentinië speel in Mendoza teen Frankryk, Chili kom in Talca teen Hongkong te staan, en Kanada en Skotland pak mekaar in Ottawa.
# Vervolgens, sokker: Bafana Bafana kom te staan teen Uganda, Kongo Brazzaville en Suid-Soedan in Groep K om te kwalifiseer vir die Afrikabeker in Marokko. Die groepswenners en naaswenners kwalifiseer vir die toernooi wat op 21 Desember volgende jaar afskop. Nigerië kry kans om wraak te neem na die onlangse skok-Wêreldbeker kwalifiserende nederlaag teen Benin nadat hulle in dieselfde kwalifiserende groep geloot is. Daar sal twee kwalifiserende wedstryddae wees in September, twee in Oktober en die finale twee in November.
# Ons kyk nou na tennis: Die sewemalige kampioen, Novak Djokovic van Serwië, het ʼn moeilike toets deurstaan en die Britse promotorskeuse, Jab Fearnley, verslaan om Wimbledon se derde ronde te haal. Die Amerikaner Ben Shelton het die Suid-Afrikaanse kwalifiseerder, Lloyd Harris, net-net in vyf stelle geklop. Stefanos Tsitsipas van Griekeland is uitgeskakel. Andy Murray is op die hoofbaan vereer nadat hy en sy broer, Jamie, hulle eerste ronde van die mans-dubbelspel verloor het. Murray sê dit voel soos ʼn goeie einde:
# En ons sluit af met motorsport: Die jong Britse sensasie Oliver Bearman sê sy Formule 1-rennommer, 87, is baie spesiaal. Haas het gister aangekondig hulle het die 19-jarige van volgende jaar af kontrakteer. Bearman sê voor hom was dit sy pa se nommer. Hy is gebore op 8 Mei, en sy broer op 7 Augustus. Bearman het ook onthul sy landgenoot, die sewemalige wêreldkampioen Lewis Hamilton, het nege jaar gelede vir hom ‘n video gestuur om hom aan te moedig om vas te byt tot hy eendag die F1-paal haal.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….