Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Departement van Gesondheid bevestig die herstel van 15 A-pokke-pasiënte
# Die VF Plus beskuldig Lesufi dat hy die skepping van ‘n beter bedeling in Gauteng ondermyn
# En, die Arbeidersparty behaal ‘n weghol-oorwinning in die Britse verkiesing
# Die Departement van Gesondheid sê 15 A-pokkepasiënte het herstel, met vyf wat weens ernstige komplikasies in die hospitaal opgeneem is. Vier nuwe gevalle is in Gauteng en KwaZulu-Natal bevestig. Dit bring die totaal sedert die uitbreking in Mei op 20 gevalle en drie sterftes te staan. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale, sê uitbrekings-reaksiespanne is geaktiveer, en ‘n nuwe besending medikasie word binnekort verwag:
# Die Vryheidsfront Plus in Gauteng sê hy verwerp die blatante opportunisme van premier Panyaza Lesufi wat die skepping van ‘n beter bedeling in die provinsie ondermyn. Die nuwe provinsiale uitvoerende raad bestaan uit sewe ANC-LUR’e en een elk van die IVP, Rise Mzansi en die Patriotic Alliance. Anton Alberts van die VF-Plus sê Lesufi sal ‘n opdraande stryd hê om enige besluit in werking te stel omdat hy tans met ‘n beduidende minderheid regeer:
# Alseno Kagiso Mosai van die Universiteit van Pretoria waarsku dat jong kinders in Krugersdorp, Gauteng, uraan-, arseen- en kwikdampe inasem wat van verlate myne af kom. Hy en ander kenners het ‘n artikel geskryf waarin hulle ʼn gemengde benadering aanbeveel wat bekostigbaar en doeltreffend is vir vinnige optrede. Mosai sê die mynmaatskappye wat vir die besoedeling verantwoordelik is, is dikwels nêrens te sien nie. Dan moet die regering fondse verskaf om die suurwater-deinering op te ruim om inwoners te beskerm.
# Die Arbeidersparty het die Britse algemene verkiesing gewen deur die 326 setels te bekom wat vir ‘n meerderheid in die Laerhuis benodig word. Die partyleier, Keir Starmer, is die Arbeiders se eerste premier in 14 jaar in Downingstraat 10. Starmer besoek Buckingham-paleis later vandag waar koning Charles hom sal vra om ‘n regering saam te stel. Die uitgaande eerste minister, Rishi Sunak, het toegegee die Konserwatiewe Party is verslaan. Starmer sê verandering begin nou:
# Sokker: Bafana Bafana kom te staan teen Uganda, Kongo Brazzaville en Suid-Soedan in Groep K om te kwalifiseer vir die Afrikabeker in Marokko. Die groepswenners en naaswenners kwalifiseer vir die toernooi wat op 21 Desember volgende jaar afskop. Nigerië kry kans om wraak te neem na die onlangse skok-Wêreldbeker kwalifiserende nederlaag teen Benin nadat hulle gister in dieselfde kwalifiserende groep geloot is. Daar sal twee kwalifiserende wedstryddae wees in September, twee in Oktober en die finale twee in November.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-19-sent teen die dollar, 19-rand-69-sent teen die euro en 23-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 54-duisend-232-dollar-53-sent. Die prys van goud is twee-duisend-367-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 87-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….