Nuus 08:00
BULLETIN 5 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die African Transformation Movement is bekommerd oor die verlenging van die tydelike visumtoegewings
# ‘n Peiling voorspel ‘n weghol-oorwinning vir Brittanje se Arbeidersparty
# En rugby: Die Baba-bokke se halfeindronde-kanse is in die weegskaal
# Die African Transformation Movement het kommer uitgespreek oor die verlenging van die tydelike toegewing aan buitelandse burgers wat tans op die uitslag van visum-, kwytskelding- en appèlaansoek wag. Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, sê hierdie verlenging beskerm aansoekers teen nadelige gevolge of dat hulle verkeerdelik as ongewens verklaar word terwyl hulle wag op die uitslag van aansoeke wat by die departement ingedien is. ATM se nasionale woordvoerder, Zama Ntshona, sê die besluit toon ‘n blatante verontagsaming van Suid-Afrikaners se welstand en ekonomiese vooruitsigte:
# Saftu doen ‘n beroep op werkers om jaarlikse bonusse van die Ford motormaatskappy te eis. Hulle ondersteun Numsa in hul staking, ná ‘n twee jaar lange onderhandelingsdooiepunt. Hy voer aan gegewe Ford se winsgroei, kan die onderneming dit bekostig om bonusse te betaal. Trevor Shaku van Saftu beweer bonusse moet werkers bevoordeel wat surpluswaarde geskep het, nie net bestuurders en aandeelhouers nie:
# Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie stel ondersoek in na bewerings dat dowe elektrisiteit-studente by die PCD College in Montana, Pretoria, mishandel word. In klagtes wat aan die Neema-stigting vir Dowes gestuur is, beleef studente na bewering diskriminasie, rassisme en onregverdige behandeling in vergelyking met hulle horende medestudente. PCD College se direkteur, Christo Buchling, ontken die bewerings en sê die instelling is in sy 21-jarige bestaan nog nooit voorheen beskuldig van mishandeling, rassisme, onregverdige arbeidspraktyke of diskriminasie nie.
# Peilings voorspel ʼn weghol-oorwinning vir Keir Starmer se Arbeidersparty in Brittanje se verkiesing wat die Konserwatiewe Party se bewind van 14 jaar sal beëindig. Arbeid sal na verwagting 410 setels kry teenoor die Konserwatiewes se 131. In die vorige algemene verkiesing het die Konserwatiewes ʼn meerderheid van 365 setels gekry teenoor die Arbeiders se 203. Starmer, wat die vierde Arbeider-leier sedert die Tweede Wêreldoorlog sal wees wat die Konserwatiewes uit die kussings lig, het belowe om die veranderinge te bring wat Brittanje nodig het.
# Rugby: Die Junior Springbokke het ʼn 31-12-nederlaag gely in hul groepwedstryd teen Argentinië in die Wêreldrugby Onder 20-kampioenskap in Stellenbosch. Die gashere het twee drieë gedruk teenoor hul teenstanders, Los Pumitas, se vyf. Hierdie nederlaag beteken Suid-Afrika moet Engeland Dinsdag in hul laaste groepwedstryd klop om ʼn kans te staan om die halfeindronde te haal. Die Junior Bokke se afrigter, Bafana Nhleko, sê swak dissipline het hulle gekniehalter:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-24-sent teen die dollar, 19-rand-75-sent teen die euro en 23-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 55-duisend-488-dollar-38-sent. Die prys van goud is twee-duisend-361-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 87-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….