Nuus 07:00
BULLETIN 5 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Instituut vir Internasionale Aangeleenthede kritiseer die ANC se buitelandse beleidsmislukkings
# Die Padongelukkefonds is bekommerd oor die hoë aantal jeugverwante eise
# En Israel bestudeer Hamas se jongste reaksie op die VSA-gesteunde skietstilstandvoorstel
# Die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Internasionale Aangeleenthede, Moeletsi Mbeki, het die ANC gekritiseer vir sy versuim om Suid-Afrika se leierskap in Afrika te prioritiseer. Mbeki het tydens ‘n Instituut vir Sekerheidstudie-webinaar gepraat en die land se ondoeltreffende buitelandse beleid onder ANC-beheer uitgelig. Mbeki sê die beleid se ekonomiese sukses was te danke aan pogings deur die privaat sektor, nie regeringsondersteuning nie. Hy het ook die behoefte aan sterker militêre belegging en die verbetering van Suid-Afrika se weermag beklemtoon.
# Die Kaapse Forum is streng gekant teen die moontlike aanstelling van die voormalige Wes-Kaapse regterpresident en MK se parlementêre leier John Hlophe op die Regterlike Dienskommissie. Hulle beskryf sy benoeming as ‘n oneer vir die regstelsel. Hulle kritiseer Hlophe se pogings om regters se besluite ten gunste van voormalige president Jacob Zuma te beïnvloed. Heindrich Wyngaard van die Forum waarsku Hlophe se aanstelling, saam met die EFF se benoeming van Julius Malema, kan die integriteit van die regbank bedreig:
# Die Padongelukkefonds sê 44-persent van sy eise kom van mense tussen die ouderdom 15 tot 34 jaar. Eise wat tussen 2020 en 2021 ingedien is, beloop 43,13-miljard-rand, plus 2,86-miljard-rand vir sterfte-verwante voordele. In dieselfde tydperk is 13-duisend-963 jongmense dood uit die totale sterftes van 34-duisend-946. Die fonds se uitvoerende hoof, Collins Letsoalo, sê hierdie kommerwekkende statistiek beklemtoon die noodsaaklikheid dat jongmense hulle gedrag verander en voorkeur gee aan padveiligheid.
# Johannesburg se burgemeester, Kabelo Gwamanda, hou vol die nuwe 200-rand-heffing op elektrisiteit sal bly ten spyte van enorme teenkanting van die publiek. Die heffing kom by die 12,72-persent tariefverhoging wat ook hierdie maand in werking tree. Gwamanda sê die nuwe elektrisiteitsheffing is ‘n noodsaaklike ingryping om regverdigheid en gelykheid in die stad se tariefstelsel te skep:
# Israel se regering sê hy bestudeer Hamas se reaksie op ʼn Amerikaans-ondersteunde voorstel vir ʼn skietstilstand in Gaza wat in fases ingestel word. Die militante groep het verlede maand wysigings voorgestel, maar Amerika het gesê sommige daarvan sal nie werk nie. Israel sê hy sal net tydelike onderbrekings in gevegte aanvaar totdat Hamas uitgewis is. ʼn Ooreenkoms is laat in November bereik waarna meer as 100 van die geraamde 240 gyselaars wat Hamas na Gaza geneem het, vrygelaat is in ruil vir 240 Palestyne in Israelse tronke.
# Motorsport: Die jong Britse sensasie Oliver Bearman sê sy Formule 1 resiesnommer, 87, is baie spesiaal. Haas het gister aangekondig hulle het die 19-jarige van volgende jaar af gekontrakteer. Bearman sê voor hom was dit sy pa se nommer. Hy is gebore op 8 Mei, en sy broer op 7 Augustus. Bearman het ook onthul sy landgenoot, die sewemalige wêreldkampioen Lewis Hamilton, het nege jaar gelede vir hom ‘n video gestuur om hom aan te moedig om vas te byt tot hy eendag die F1 paal haal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-24-sent teen die dollar, 19-rand-74-sent teen die euro en 23-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-947-dollar-53-sent. Die prys van goud is twee-duisend-360-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 87-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….