Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 05 Julie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die eerste tweejaarlikse beplanningsvergadering van Suid-Afrika se nuwe uitvoerende gesag, wat deur ministers, adjunkministers en direkteurs-generaal bygewoon sal word, sal oorweeg hoe om verskeie partymanifeste in ‘n samehangende regeringsbeleid saam te voeg. Die lekgotla vind van Donderdag af plaas.
# En Mail & Guardian op Vrydae:
Lei met: “THE MASTER CABINET MAKER”. Die koerant skryf hoe president Cyril Ramaphosa sleutelministeries behou het, die mag van die DA verwater het en kleiner partye gepaai het.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig oor die sluipmoordaanval op die 74-jarige Ettienne du Preez en 66-jarige Flip Minnaar by ‘n restaurant in Heidelberg. Du Preez is in die hospitaal dood en Minnaar is in ‘n bedenklike toestand. Die skieter op ‘n motorfiets het beide mans in die kop geskiet. Daar word bespiegel dat die aanval met die slagoffers se betrokkenheid by die GPF verband hou.
En tweedens skryf die koerant ysige weer word voorspel vir Saterdag se kragmeting tussen die Bokke en Ierland op Loftus. Daar word sowat 50-duisend toeskouers verwag.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die Presidensie het die vergrote kabinet verdedig en verduidelik dit is ‘n weerspieëling van wat die kiesers wou gehad het.
En berig UNISA wil niks sê oor die jongste kul-skandaal waar kunsmatige intelligensie en ChatGPT glo gebruik is in student-opdragte nie.
# Sowetan:
Berig die 18-jarige verdagte in die moord op die driejarige Peaceful Khoza het glo nou ook nog kindergrafte aan die polisie uitgewys. Die koerant bespiegel of Siviwe Thulare ‘n reeksmoordenaar is.
# En The Citizen:
Het gaan ondersoek instel na wat werklik in die Gautengse magstryd gebeur het.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Het dieselfde hoofberig as Beeld oor die aanval in Heidelberg.
En tweedens skryf die koerant die geskorste hoofinspekteur van die DBV in Bloemfontein, Reinet Meyer, gaan appeleer teen haar ontslag.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig eerstens ook oor die kabinetslekgotla wat van volgende Donderdag af plaasvind. Die Presidensie sê geen minister kan op eie houtjie besluit watter beleid in ‘n departement uitgevoer kan word nie. Dit word deur konsensus bepaal.
Tweedens skryf die koerant die 11-jarige Noa van Schalkwyk het die verloofring van Doreen Smith gevind wat sy ses jaar gelede in ‘n dam in Piket-Bo-Berg verloor het.
En laastens is daar nuus oor die reuse-geleentheid wat in Perth beplan word vir die UFC-kampioen, Dricus du Plessis se titelgeveg teen Israel Adesanya.
# En Cape Times:
Berig ook oor die redes vir die vergrote Kabinet.
En skryf LP’s wil steeds hê daar moet ‘n oorsigmeganisme vir die Presidensie wees.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig humeure het opgevlam tydens ‘n komiteevergadering van die Nelson Mandelabaai-metro toe die EFF daarop aangedring het dat meer as ‘n 100 kontrakwerkers permanent aangestel moet word teen ‘n koste van 60-miljoen-rand per jaar.
En tweedens skryf die koerant oor Angelwings Pet Medic Services wat gestig is as troeteldier-ambulansdiens in die Baai.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf vrese bestaan dat die binnegevegte in die National Freedom Party die regering van provinsiale eenheid in KwaZulu-Natal in duie kan laat stort.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig talle jong Namibiese vroue wend hulself as gevolg wydverspreide werkloosheid tot prostitusie. Hulle adverteer hul dienste veral op sosialemediaplatforms.
En tweedens skryf die koerant verskeie maatskappye het reeds miljoene belê in pogings om gebruikers aan die veseloptiese-netwerk te verbind.