Nuus 06:00
BULLETIN 5 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC bevestig die regering van nasionale eenheid se beleidsplatform
# Die EFF onderneem om arbeidsbeleid in die Parlement te monitor
# En rugby: Die Curriebeker skop in Kimberley af
# Die ANC sê daar is ooreenstemming oor die beleidsplatform van die regering van nasionale eenheid, waartoe alle politieke partye ingestem het wat die verklaring van voorneme onderteken het. Die verduideliking volg ná die mislukte pogings in Gauteng met die ineenstorting van die samesprekings tussen die DA en ANC. Die ANC se waarnemende nasionale woordvoerder, Zuko Godlimpi, sê die regeringsbeleid bly sonder uitsondering van krag:
# Die Nasionale Tesourie gee die versekering dat die gebalanseerde fiskale vooruitsig, soos vervat in die 2024-begroting voortgesit word. Die minister van Finansies Enoch Godongwana het sy posisie in die nuwe Kabinet behou en het nou twee adjunkte, David Masondo en Ashor Sarupen. Die Tesourie sê hy sal voortgaan om staatsfinansies te stabiliseer en fiskale en ekonomiese risiko’s te verminder, terwyl ekonomiese groei bevorder en kwesbare lede van die samelewing ondersteun sal word.
# Die EFF het onderneem om arbeidsbeleid in die Parlement te monitor, veral dié onder toesig van die Departement van Arbeid en Binnelandse Sake. Die party is in solidariteit met Ford Suid-Afrika se werkers en die geaffilieerde Metaalwerkersvakbond Numsa, wat staak vir billike winsdelingsbonusse. EFF-woordvoerder Leigh-Ann Mathys kritiseer Ford se uitbuitende praktyke. Mathys vra vir die beskerming van werkersregte en billike indiensnemingspraktyke:
# COSATU in Gauteng het die aanstelling van lede van die Uitvoerende Raad in die sewende Provinsiale Administrasie verwelkom. Die premier, Panyaza Lesufi, se kabinet, sonder die DA, sluit die IVP, Rise Mzansi en die PA in. Woordvoerder, Zanele Sabela, sê COSATU het hierdie besluit geprys en sal die LUR’e se prestasie monitor. Sy sê die vakbond bevestig weer sy verbintenis tot die verdediging van grondwetlike en arbeidsregte, terwyl verbeterde dienslewering beloof is:
# Iranese stem vandag weer om te kies tussen die hervormer Masoud Pezeshkian en die streng konserwatiewe Saeed Jalili in ‘n presidensiële tweestryd. In die eerste stemming kon geen kandidaat ‘n meerderheid behaal nie. Pezeshkian is ten gunste van verbeterde buitelandse verhoudinge om Iran se ekonomie ‘n hupstoot te gee, terwyl Jalili sterk anti-Westers is. Die verkiesing volg op die dood van die voormalige president Ebrahim Raisi. Dit is die tweede presidensiële tweestryd in die land se geskiedenis.
# Rugby: Die Premierliga van die Curriebeker skop vandag af. In die eerste wedstryd pak die Griekwas en die Pumas mekaar om drie-uur in Kimberley. Om 5:15 vanmiddag speel die Haaie tuis in Durban teen die Leeus. Môremiddag een-uur begin die Cheetahs hulle veldtog teen hulle bure, die Griffons, in Bloemfontein. Die grootste stryd van die naweek begin drie-uur Sondagmiddag wanneer die Westelike Provinsie te staan kom teen die Bulle in Kaapstad. Die eindstryd is op 21 September.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-24-sent teen die dollar, 19-rand-73-sent teen die euro en 23-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-430-dollar-94-sent. Die prys van goud is twee-duisend-358-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 87-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….