Nuus 16:00
BULLETIN 4 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Kabinetslekgotla gaan die sewende administrasie se belangrikste punte uiteensit
# Minister Nyhontso stel grondherverspreiding en landelike ontwikkeling voorop
# En, rugby: Liam Wright word aangestel as die Wallabies se kaptein vir die toets teen Wallis
# Minister Khumbudzo Ntshavheni het die sewende administrasie se belangrikste prioriteite uiteengesit wat die aanpassing van politieke partyvereistes en die doelwitte van die nasionale ontwikkelingsplan sal insluit. Hierdie belyning verseker samehang en fokus op regeringsbeleid en optrede ten opsigte van uiteenlopende politieke belange. Ntshavheni het op ‘n nuuskonferensie gesê die oorgang van die sesde na die sewende administrasie is voltooi met die inhuldiging van nuwe ministers en adjunkministers:
Intussen sê die minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Mzwanele Nyhontso, die grond-agterstand en die herverspreiding van grond aan die regmatige eienaars kry voorkeur. Nyhontso beklemtoon die belangrikheid van landelike ontwikkeling deur verbeterde infrastruktuur en behoorlike toerusting. Hy sê die hervorming van grondbeleid sal Suid-Afrikaners beter toegang gee tot grond, en geleenthede skep in landelike gebiede:
# Die Suid-Afrikaanse Brouerye vier die sukses van sy Sharp-projek met ‘n kleinhandelaar-nakomingskoers van 78-persent in die bevordering van verantwoordelike drinkgewoontes. Die projek, in samewerking met wetstoepassers, die regering en die drankbedryf, het meer as 32-duisend kleinhandelaars landwyd beoordeel. Zoleka Lisa van die SAB het die platform se integrasie met hul sake-strategie geloof, wat ‘n kultuur van verantwoordelikheid bevorder. Vennootskappe met agentskappe soos die Johannesburgse Metropolisiedepartement het pogings versterk om dronkbestuur te bekamp.
# Die Australiese polisie het menslike oorskot gevind tydens die soektog na ‘n 12-jarige-seun wat hulle glo die slagoffer van ‘n krokodilaanval was. Die seun is Dinsdag laas gesien terwyl hy saam met familie naby ‘n afgeleë dorp in die Noordelike Gebied geswem het. Tot 40 inwoners het die polisie gehelp in hul soektog na die kind. ‘n Polisiesersant het vroeër aan ABC News gesê ‘n krokodil is in die onmiddellike omgewing gesien, maar geen besonderhede verskaf of die reptiel gevind is nie.
# Rugby: Liam Wright is aangewys as die nuwe kaptein van die Wallabies vir Saterdag se toets teen Wallis in Sydney. Die afrigter, Joe Schmidt, het die flank van die Reds die opvolger gemaak van Will Skelton, wat Australië aangevoer het in verlede jaar se rampspoedige Wêreldbeker-veldtog. Skelton speel oorsee en is nie oorweeg vir die twee toetse teen die Walliesers nie. Wright keer terug nadat hy in 2020 die laaste van sy vyf toetse gespeel het, maar Schmidt sê hy is die medekaptein van die Reds en die spelers beskou hom as ‘n natuurlike leier.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-31-sent teen die dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 23-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-542-dollar-11-sent. Die prys van goud is twee-duisend-359-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-82-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….