Eko-minuut 13:30
BULLETIN 4 Julie 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Stad Kaapstad het meer tyd van die Nasionale Kernkragreguleerder gevra om oor die toekomstige werksaamhede van die Koeberg-kernaanleg te besluit. Dit is weens kommer oor stedelike ontwikkeling en veiligheid. Verskeie veiligheidskwessies is in 2022 in ‘n verslag van die Internasionale Atoomenergie-agentskap uitgelig, insluitend krake en skade aan geboue waarin die waterreaktors geleë is en ‘n wanfuksionele monitorstelsel. Die Suider-Afrikaanse Geloofsgemeenskapsomgewing dreig met regstappe as Koeberg toestemming kry om sy bedrywighede voort te sit.
# Die dodetal in die vernietiging deur die orkaan Beryl oor die Karibiese Eilande het tot agt gestyg nadat een mens in Jamaika dood is. Die orkaan is een van die hewigste ooit oor die gebied. Dit is die vroegste kategorie-vyf-storm wat ooit in die Atlantiese Oseaan aangemeld is, maar het intussen tot kategorie vier verswak. Beryl beweeg tans na die Kaaiman-eilande en sal volgens weervoorspellers vanaand of môre-oggend Meksiko se Yucatan-skiereiland steeds as ‘n orkaan bereik.
# En, klimaatsverandering dreig om meer as 130-miljoen mense in armoede te dompel, as daar nie volgehoue pogings is om koolstof-uitlatings te sny en klimaat-aanpassingsplanne in te stel nie. So sê die Suid-Afrikaanse Instituut van Internasionale Aangeleenthede. Afrika-beleidmakers word aangemoedig om te belê in maatskaplike beskerming, geïntegreer met nasionale klimaatreaksies, om kwesbare bevolkings te versterk. Die klimaatnavorser Jordan McLean sê state in die Afrika-unie moet die Africa Risk Capacity Insurance Company onderskryf vir samevoeging van die risiko op die vasteland weens uiterste weerstoestande.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….