Nuus 13:00
BULLETIN 4 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC in die Wes-Kaap sê hy gaan ‘n sterk opposisie bly
# Die Staatsdiensvakbond vra waaksaamheid met die A-pokke-uitbreking in KwaZulu-Natal
# En, skaak: ‘n Nege-jarige Britse meisie maak in September geskiedenis
# Die ANC in die Wes-Kaap sê hy hoop die regering van nasionale eenheid sal ‘n positiewe uitwerking op plaaslike politiek hê en dienslewering versnel. Die ANC het vier setels in die provinsiale wetgewer verloor, maar sê hy gaan met die orige agt ʼn sterk opposisie bly. Die party se woordvoerder, Khalid Sayed, sê hulle wil bo politieke konflik uitstyg en met alle partye saamwerk om produktiewe betrokkenheid en beleidsinstelling te verseker.
# Die Vereniging van Staatsamptenare is geskok oor die vinnige verspreiding van A-pokke-gevalle in KwaZulu-Natal, nadat ‘n derde sterfte sedert verlede maand aangemeld is. Die Departement van Gesondheid het 16 gevalle bevestig, hoofsaaklik in Gauteng en KwaZulu-Natal. Hulle eis meer toetse en departementele steun vir gesondheidsorgwerkers. Mlungisi Ndlovu van die vereniging vra streng beheermaatreëls, verbeterde skoonmaakprotokolle en openbare waaksaamheid:
# Die dodetal in die vernietiging deur die orkaan Beryl oor die Karibiese Eilande het tot agt gestyg nadat een mens in Jamaika dood is. Die orkaan is een van die hewigste ooit oor die gebied. Dit is die vroegste kategorie-vyf-storm wat ooit in die Atlantiese Oseaan aangemeld is, maar het intussen tot kategorie vier verswak. Beryl beweeg na die Kaaiman-eilande en sal volgens weervoorspellers vanaand of môre-oggend Meksiko se Yucatan-skiereiland steeds as ‘n orkaan bereik.
# Skaak: ‘n Negejarige Britse meisie maak in September geskiedenis as die jongste mens om die land in ‘n senior internasionale byeenkoms te verteenwoordig. Bodhana Sivanandan van Londen is ingesluit in die nasionale span wat in die Hongaarse hoofstad, Boedapest, aan die skaak-olimpiade sal deelneem. Haar naasjongste spanmaat is die 23-jarige Lan Yao. Bodhana het in die Covid-19-inperking begin skaak speel en het in 2022 Engeland se eerste wêreld-jeugkampioen in 25 jaar geword.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-86-sent teen die euro en 23-rand-46-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-129-dollar-40-sent. Die prys van goud is twee-duisend-356-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-89-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Vroeë kunswerk van die Venesiese meester Titian, Rustyd tydens die Vlug na Egipte, is op ‘n veiling in London verkoop teen ʼn rekordprys van sowat 405-miljoen-rand. Die skildery is talle kere gesteel en in 1995 in ʼn plastieksak op ʼn Londense bushalte gevind nadat dit uit Longleat House in Engeland verwyder is. Die afslaer Christie’s se woordvoerder, Letizia Treves, sê Titian het die kunswerk in die eerste dekade van die 16de eeu geskep:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….