Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 4 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Springbok-losskakel Handré Pollard sê dit sal ‘n volledige spanpoging verg om Ierland Saterdag op Loftus Versfeld in Pretoria te klop. Ierland het sy laaste drie wedstryde teen Suid-Afrika gewen. Pollard, wat twee punte nodig het om die kerf van 700 punte in toetsrugby te haal, sê die groep se selfvertroue is goed en hulle het goed voorberei vir die moeilike kragmeting:
# Tennis: Die wêreld-nommer een, Jannik Sinner van Italië, en die verdedigende kampioen, Carlos Alcaraz van Spanje, is deur na die derde ronde van Wimbledon. Sinner het sy landgenoot Matteo Berrettini verslaan terwyl Alcaraz die Australiër Aleksandar Vukic in skoon stelle uitgeskakel het. Casper Ruud van Noorweë het teen die Italianer Fabio Fognini verloor. In die vroue-afdeling het die Amerikaner Emma Navarro vir Naomi Osaka van Japan verslaan terwyl die Brit Emma Raducanu in die derde ronde met die negende-gekeurde Maria Sakkari van Griekeland sal kragte meet.
Intussen sal Raducanu en haar landgenoot Andy Murray as promotorskeuses in die gemengde dubbels speel. Die 37-jarige Murray, ‘n voormalige wêreld nommer een, het aan die enkelspel onttrek. Hy en sy ouer broer Jamie speel in die mans-dubbels, en hulle veldtog begin vandag teen die Australiërs Rinky Hijikata en John Peers. Murray het die enkelstitel in 2013 en 2016 gewen, asook die Amerikaanse Ope in 2012. Die 21-jarige Raducanu het die Amerikaanse Open in 2021 ingepalm.
# Fietsry: Die Brit Mark Cavendish het die rekord verbeter met ‘n 35ste skofoorwinning op die Tour de France toe hy die vyfde skof in Saint-Vulbas gewen het. Die 39-jarige Cavendish, wat sy uittrede uitgestel het om die rekord te verbeter, het die rekord saam met die Belg, Eddy Merckx, gehou sedert hy in 2021 sy 34ste skof gewen het. Jasper Philipsen van België was tweede en Alexander Kristoff van Noorweë derde. Cavendish sê hy kan dit nie glo nie:
# En laastens, skaak: ‘n Negejarige Britse meisie maak in September geskiedenis as die jongste mens om die land in ‘n senior internasionale byeenkoms te verteenwoordig. Bodhana Sivanandan van Londen is ingesluit in die nasionale span wat in die Hongaarse hoofstad Boedapest aan die skaak-olimpiade sal deelneem. Haar naasjongste spanmaat is die 23-jarige Lan Yao. Bodhana het in die Covid-19-inperking begin skaak speel en het in 2022 Engeland se eerste wêreld-jeugkampioen in 25 jaar geword.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….