Nuus 12:00
BULLETIN 4 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Kenners twyfel of Suid-Afrika volgende jaar van die gryslys gehaal sal word
# Die minister van Landbou stel vennootskappe en landelike veiligheid eerste
# En, tennis: Murray, Raducanu span saam in Wimbledon se gemengde dubbels
# Kenners twyfel of Suid-Afrika teen Junie volgende jaar van die Finansiële Aksietaakspan se gryslys gehaal sal word. Die taakspan wat wêreldwye standaarde stel vir die stryd teen geldwassery en terrorisme-finansiering, het bevind Suid-Afrika skiet te kort en het die land verlede jaar in Februarie op die gryslys geplaas. Isaac Matshego van Nedbank het aan die SABC gesê die regstelling van die basiese kwessies wat veroorsaak het dat die land op die gryslys beland het, moet die hooffokus wees:
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sê sy eerste mandaat in die amp is om landbouvennootskappe te organiseer om die sektor te verbeter. Dit sluit in die ondersteuning van klein swart opkomende boere en groot kommersiële instellings. Steenhuisen het ook ander belangrike fokuspunte uitgelig, insluitend verbeterde infrastruktuur, landelike veiligheid, voedselsekerheid, ekonomiese groei, werkskepping en die grondwetlike oplossing van grondkwessies. Hy het die belangrikheid van samewerking in die bevordering van die landbousektor beklemtoon:
# Die Indiese polisie soek na die organiseerders en die Hindoe-ghoeroe wat ‘n godsdienstige byeenkoms in die sentrale staat Uttar Pradesh gehou het. Minstens 121 mense is Dinsdag dood tydens ʼn stormloop by die geleentheid. Die staat se regering het opdrag gegee vir ʼn regs-ondersoek na die tragedie. Die Hindoe-prediker Suraj Pal, wat by sy volgelinge as Bhole Baba bekend staan, kruip volgens berigte weg. Pal is ʼn gewese polisiebeampte wat 20 jaar gelede sy werk laat vaar en begin preek het.
# Tennis: Andy Murray en sy Britse landgenoot Emma Raducanu sal as promotorskeuses in die gemengde dubbels op Wimbledon speel. Die 37-jarige Murray, ‘n voormalige wêreld nommer een, het aan die enkelspel onttrek. Hy en sy ouer broer Jamie speel in die mans-dubbels, en hulle veldtog begin vandag teen die Australiërs Rinky Hijikata en John Peers. Murray het die enkelstitel in 2013 en 2016 gewen, asook die Amerikaanse Ope in 2012. Die 21-jarige Raducanu het die Amerikaanse Open in 2021 ingepalm.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-35-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 23-rand-42-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-172-dollar-44-sent. Die prys van goud is twee-duisend-358-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-59-sent per vat.
# En ten slotte, slaai-liefhebbers vier die dag waarop die Caesar-slaai presies 100 jaar gelede geskep is. Die slaai is volgens oorlewering deur die Italiaanse immigrant, Caesar Cardini, by sy restaurant Caesar’s Place in Tijuana, Mexiko, uitgedink. Cardini het een snikwarm aand gesukkel om sy klante kos te gee. Hy het heel Romaine-blare met knoffel-gegeurde olie, Worcester-sous, suurlemoene, gekookte eiers en Parmesaan-kaas bymekaar gegooi. Die restaurant sê hulle maak steeds tot 300 Caesar-slaaie elke dag. Tijuana beplan ʼn driedaagse kos-en-wynfees en sal ʼn standbeeld van Cardini onthul.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….