Nuus 09:00
Bulletin Inhoud
BULLETIN 4 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# COPE doen ‘n beroep op die nuwe Kabinet om beleidsekerheid en werkskepping te prioritiseer
# Volgens ‘n opname het die aktiwiteit van die Suid-Afrikaanse privaat sektor afgeneem in Junie
# En die VN sê ongeveer 90-persent van die mense in Gaza is sedert die begin van die oorlog ontheem
# COPE sê die nuwe Kabinet onder die regering van nasionale eenheid moet voorkeur gee aan beleidsekerheid, ekonomiese groei en werkskepping. Hoofregter Raymond Zondo het gister in Kaapstad alle ministers en adjunkministers in president Cyril Ramaphosa se nuwe Kabinet ingesweer. COPE se waarnemende voorsitter, Pakes Dikgetsi, sê hulle sal nie huiwer om die nuwe uitvoerende gesag aanspreeklik te hou nie:
# ‘n Peiling deur S and P Global Market Intelligence toon Suid-Afrika se privaat sektor-sakebedrywighede het in Junie gedaal. Die hoof-ekonoom David Owen sê uitsette en nuwe bestellings het afgeneem weens onsekerheid oor die verkiesings-uitkoms en die nuwe regering. Owen sê die S and P Global South Africa Purchasing Managers’ Index het in Junie gedaal tot 49,2 vanaf 50,4 in Mei. Hy verwag ‘n effense herlewing in verkope in Julie met ondernemings wat terugkeer na normale aktiwiteit.
# RISE Mzansi het die aanstelling van sy nasionale voorsitter, Vuyiswa Ramokgopa, as nuwe LUR vir Landbou en Landelike Ontwikkeling verwelkom. Premier Panyaza Lesufi het ‘n uitvoerende raad van tien lede saamgestel onder die vaandel van ‘n regering van provinsiale eenheid. RISE Mzansi se woordvoerder, Mabine Seabe, sê die party se openbare verteenwoordigers in sowel die nasionale en provinsiale sfere van die regering sal toeganklik en aanspreeklik wees en alle gemeenskappe dien:
# Die Verenigde Nasies se Kantoor vir die Koördinering van Humanitêre Sake sê sowat 90-persent van Gaza se bevolking is ontwortel sedert die oorlog tussen Israel en Hamas begin het. Die oorlog het uitgebreek ná Hamas se aanval op 7 Oktober waarin een-duisend-195 mense dood is. Israel se teenaanval het volgens Hamas intussen tot die dood van minstens 37-duisend-953 mense gelei. Andrea De Domenico van die VN sê die humanitêre situasie in Gaza is haglik:
# Sokker: Mamelodi Sundowns en hoofafrigter Rhulani Mokwena se paaie het met wedersydse instemming geskei. Hy het in die 2020/2021-seisoen by die klub aangesluit as medeafrigter saam met Manqoba Mngqithi, voordat hy in die 2022/2023-seisoen as hoofafrigter oorgeneem het. Mokwena het sewe trofeë in vier seisoene opgeraap. Dit sluit in vier liga-titels, ‘n Nedbankbeker-titel, ʼn MTN8-titel, en die eerste Afrika-sokkerliga. Sundowns sê die raad het die besluit geneem en die doelwitte en verwagtinge van die klub in aanmerking geneem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-42-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 23-48-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-847-dollar-27-sent. Die prys van goud is twee-duisend-358-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 86-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….