Nuus 08:00
BULLETIN 4 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# SAFTU vra vir verlaagde vervoertariewe na die daling in brandstofpryse
# Die Verkiesingshof beboet twee MK-partylede met 150-duisend-rand elk
# En die Demokratiese goewerneurs steun president Biden
# Die vakbondfederasie Saftu vra ‘n onmiddellike vermindering in taxi- en bustariewe ná die jongste verlaging in die brandstofprys. Volgens die federasie bly openbare vervoertariewe onveranderd, ten spyte van laer brandstofpryse, en dit plaas voortgesette finansiële druk op werkersklaspendelaars. Trevor Shaku van Saftu vra die regering om in te gryp en te verseker dat verlaagde brandstofpryse tot laer vervoeruitgawes lei, en sodoende lewenskoste vir werkers verlig:
# Die Verkiesingshof het twee MK-partylede, Visvin Reddy en Bonginkosi Khanyile, elk met 150-duisend-rand beboet. Hulle het die Verkiesingswet oortree deur geweld en onluste aan te hits in aanloop tot die algemene verkiesing. Die twee het in Maart in die openbaar gesê daar sal anargie en onluste wees as die MK-party nie geregistreer en oudpresident Jacob Zuma nie op die stembrief is nie. Die hof het Reddy en Khanyile se boetes vir vyf jaar opgeskort op voorwaarde dat hulle in dié tyd geen verkiesingsprosesse ondermyn nie.
# Die EFF in Gauteng sê hy is nie beïndruk met die heraanstelling van dieselfde ou ANC-leiers in regeringsposisies nie, en dit nadat inwoners in die verkiesing hul ontevredenheid duidelik gemaak het. Premier Panyaza Lesufi het ‘n kabinet aangekondig wat bestaan uit sewe ANC-lede, en een elk van die IVP, Patriotic Alliance en Rise Mzansi. Die EFF se provinsiale voorsitter, Nkululeko Dunga, sê hulle sal hul rol as doeltreffende opposisie inneem wat die huidige uitvoerende gesag aanspreeklik sal hou:
# ʼn Groep voorste Demokratiese goewerneurs het hul ondersteuning vir president Joe Biden uitgespreek nadat hulle hom en visepresident Kamala Harris by die Withuis ontmoet het. Dit volg na berigte dat die president sy toekoms heroorweeg ná sy rampspoedige debat teen Trump verlede week. New York se goewerneur, Kathy Hochul, sê hulle staan agter Biden omdat hulle Trump in November wil wen:
# Tennis: Die wêreld se nommer een, Jannik Sinner, en verdedigende kampioen Carlos Alcaraz is deur na die derde ronde by Wimbledon. Sinner van Italië het sy landgenoot en gewese finalis, Matteo Berrettini, met 7-6, 7-6, 2-6, 7-6 geklop terwyl die Spanjaard, Alcaraz, die Australiër Aleksandar Vukic gemaklik met 7-6, 6-2, 6-2 verslaan het. Casper Ruud van Noorweë het teen Fabio Fognini van Italië verloor. In die vroue-afdeling het die Amerikaner, Emma Navarro, Naomi Osaka van Japan met 6-4, 6-1 verslaan terwyl die Brit, Emma Raducanu, in die derde ronde sal kragte meet met Maria Sakkari van Griekeland.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-85-sent teen die euro en 23-rand-46-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-932-dollar-56-sent. Die prys van goud is twee-duisend-359-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 86-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….