Nuus 06:00
BULLETIN 4 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die samestelling van ‘n Kabinet was uitdagend, maar bevredigend
# Panyaza Lesufi kondig ’n nuwe Gautengse Kabinet aan
# En Kamala Harris word gesien as die beste alternatief vir Joe Biden
# President Cyril Ramaphosa sê die samestelling van ‘n Kabinet in die regering van nasionale eenheid was ‘n ingewikkelde maar bevredigende proses. Die 75 lede van die uitvoerende gesag is gister in Kaapstad ingesweer deur hoofregter Raymond Zondo. Die Kabinet spog met van Suid-Afrika se jongste lede in die amp, insluitend die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, en adjunkminister in die Presidensie, Nonceba Mhlauli. Ramaphosa sê die harde werk om die land die toekoms in te neem, begin nou:
# Graan Suid-Afrika sien uit na verbeterde regeringsdienslewering na die aanstelling van nuwe kabinetslede. Die bedryfsliggaam verwag die regering van nasionale eenheid sal departementele doelwitte steun. Graan SA beklemtoon die landbousektor se potensiaal vir werkskepping, en vra openbare-privaat vennootskappe, moderne tegnologie en omvattende oesversekeringskemas om produktiwiteit te verbeter, toegang tot infrastruktuur en markte, en die uiteindelike stimulering van landelike ekonomieë.
# AfriForum vra die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika om te voldoen aan ‘n hofbevel oor munisipale elektrisiteit-tariefverhogings totdat die appèlproses afgehandel is. Die bestuurder van Plaaslike Regeringsake van AfriForum, Morné Mostert, waarsku as NERSA nie gehoor gee nie, sal hulle ‘n Hooggeregshofbevel aanvra. Die hof het beslis NERSA se goedkeuring van tariefverhogings sonder die vereiste kostestudies is onwettig. Hy beklemtoon die belangrikheid van regverdigheid en deursigtigheid vir elektrisiteitsverbruikers.
# Die Gautengse premier, Panyaza Lesufi het sy nuwe Kabinet in die regering van provinsiale eenheid aangekondig. Die Kabinet bestaan uit sewe ANC-lede, en een elk van die IVP, Patriotic Alliance en RISE Mzansi. Die LUR vir finansies is Lebogang Maile, die IVP se Bonginkosi Dlamini is LUR vir e-Regering, RISE Mzansi se Vuyiswa Ramokgopa is LUR vir Landbou en Landelike Ontwikkeling en die PA se Sheila Mary Peters is LUR vir Omgewing. Lesufi sê hulle gaan alles met deursigtigheid doen:
# Die visepresident Kamala Harris is na wat berig word die top-alternatief as Demokratiese presidensiële kandidaat sou Joe Biden besluit om nie vir herverkiesing te staan nie. Die moontlikheid word bespreek na die 81-jarige Biden se rampspoedige eerste verkiesingsdebat teen sy voorganger Donald Trump. Sy deelname is beskryf as stamelend en soms onsamehangend. Senior bronne sê Harris is die voorkeurkandidaat onder Demokrate wat bekommerd is Biden is dalk nie in staat tot ‘n tweede termyn nie. Reuters berig sy is reeds gekeur vir nasionale diens en het die Republikeine se intensiewe beoordeling oorleef.
# Rugby: Die Springbok-losskakel Handre Pollard sê dit sal ‘n volledige spanpoging verg om Ierland Saterdag op Loftus Versfeld in Pretoria te klop. Ierland het sy laaste drie wedstryde teen Suid-Afrika gewen. Pollard, wat twee punte nodig het om die 700 punte-kerf in toetsrugby te haal, sê die selfvertroue in die groep is goed en hulle het goed voorberei vir die moeilike kragmeting:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 23-rand-49-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-220-dollar-11-sent. Die prys van goud is twee-duisend-359-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 86-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….