Nuus 16:00
BULLETIN 3 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Pemmy Majodina se uitspraak-glipsie sorg vir ‘n ligter oomblik in die Parlement
# Die NUM is teleurgesteld oor Steenhuisen se aanstelling as minister van Landbou
# En, sokker: Uefa ondersoek ‘n Turkse verdediger se ultra-nasionalistiese saluut tydens Euro 2024
# President Cyril Ramaphosa se nuwe regering van nasionale eenheid is in Kaapstad ingehuldig. Hoofregter Raymond Zondo het toesig gehou oor die seremonie waar adjunkpresident Paul Mashatile, 32 ministers en 43 adjunkte hul ampseed afgelê het. Tydens die seremonie het die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, se poging om die woord ‘conscientiously’ uit te spreek, ‘n gelag in die Parlement ontketen, tot Zondo haar uiteindelik reggehelp het:
Vroeër het die mynwerkersvakbond NUM sy teleurstelling uitgespreek met die DA-leier, John Steenhuisen, se aanstelling as minister van Landbou. Hy neem oor by Thoko Didiza. Die vakbond se woordvoerder, Luphert Chilwane, sê Steenhuisen moet herinner word Suid-Afrika bly ‘n land met voedsel-onsekerheid en sy departement moet meer doen om voedselsekerheid te verseker:
# Die Openbare Beskermer sê die DA was reg oor die onreëlmatigheid van die aanstelling van wyle Ashley Mthunzi as uitvoerende hoof van die Tembisa-hospitaal in Gauteng in Julie 2021. Daar is nie aan die personeel-regulasies voldoen nie. Mthunzi is geskors nadat ‘n miljard-rand se bedrieglike kontrakte ontbloot is. Jack Bloom van die DA verwelkom ook dat ‘n diensverskaffer nou binne 120 dae aangestel moet word om alle senior beamptes se geskiktheid te bepaal:
# Die polisie in Australië soek na ‘n twaalfjarige kind wat na wat berig word deur ‘n krokodil aangeval is terwyl hy geswem het. Daar is gisteraand hulp ontbied gemaak in Palumpa, ‘n afgeleë dorp in Northern Territory, sowat sewe-uur se ry van Darwin af. Polisiebeamptes in bote soek in ‘n stroom na die kind saam met plaaslike inwoners. Daar is meer as 100-duisend krokodille, onder hulle ses-meter knewels, in die staat, wat ses keer so groot soos Brittanje is. Noodlottige aanvalle op mense is egter redelik skaars.
# Sokker: Die Europese beheerliggaam Uefa ondersoek die Turkse verdediger Merih Demiral se ultra-nasionalistiese saluut in gister se Euro 2024 ronde van 16-oorwinning oor Oostenryk. Hy het sy tweede doel gevier met ‘n gebaar wat verbind word met die verregse ekstremistiese groep Grys Wolwe, wat bande het met Turkye se regerende koalisieparty, die Nasionale Bewegingsparty. Die gebaar is verbode in Oostenryk en Frankryk. Demiral het na die tyd gesê hy het dit voor die wedstryd beplan omdat hy ‘n baie trotse Turk is.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-50-sent teen die dollar, 19-rand-90-sent teen die euro en 23-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-146-dollar-33-sent. Die prys van goud is twee-duisend-346-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….