Nuus 14:00
BULLETIN 3 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkpresident Paul Mashatile is amptelik ingehuldig
# Tshwane gryp op verskeie maniere in om watervlakke te beheer
# En, tennis: Die twee mans-gunstelinge is vandag in aksie in die tweede ronde van Wimbledon
# Adjunkpresident Paul Mashatile is amptelik ingehuldig, wat die begin aandui van sy pligte in die sewende administrasie. Dit volg op president Cyril Ramaphosa se aankondiging van ministers en hulle adjunkte, wat ook in die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum ingehuldig word. Hoofregter Raymond Zondo behartig die plegtigheid. Mashatile het beloof om homself toe te wy aan die welstand van die republiek:
Intussen sê die uitvoerende hoof van Future Forex, Harry Scherzer, die markte het gewys hoe sensitief hulle is vir politieke onbestendigheid in Suid-Afrika, en enige tekens van konflik of ondoeltreffendheid in die regering van nasionale eenheid kan die rand se winste vinnig omkeer. Hy sê die nuwe kabinet moet die momentum gebruik en deurdruk met kritieke ekonomiese hervorming, en bestendige ekonomiese ontwikkeling volhou vir plaaslike sowel as internasionale beleggings:
# Die Stad Tshwane sê hy het verskeie maatreëls ingestel om watervlakke volgens die stelselvereistes te bestuur en te beheer. Rand Water doen tans uitgebreide instandhoudingswerk aan sy infrastruktuur in Gautengse munisipaliteite. Die metro sê reservoirs wat van Rand Water se Palmiet-stelsel water ontvang, sal Vrydag en die 29ste van die maand geraak word. Die burgemeesterskomiteelid vir Nutsdienste, Themba Fosi, sê talle pro-aktiewe maatreëls word ingestel ter voorbereiding van die wateronderbreking. Dit sluit in dat reservoirs tot meer as 80-persent van hul vermoë gepomp word.
# Die president van Sierra Leone, Julius Maada, het amptelik ‘n wetsontwerp onderteken om kinderhuwelike te verbied. Die gebruik kom steeds wyd in Wes- en Sentraal-Afrika voor. Drukgroepe hoop die nuwe wetgewing sal meisies in Sierra Leone beter beskerm, waarvan ongeveer ‘n derde trou voordat hulle 18 word. Dit verhoog die moeder-sterftesyfer weens die fisiese risiko’s van swangerskap. Ingevolge die wet kan enige man wat met ‘n meisie onder die ouderdom van 18 trou, tot minstens 15-jaar tronkstraf en ‘n boete van sowat 75-duisend-rand gevonnis word.
# Tennis: Die twee gunstelinge in die mans-afdeling van Wimbledon is vandag op die baan in die tweede ronde. Die wêreld-nommer een, Jannik Sinner van Italië, speel teen sy ongekeurde landgenoot, Matteo Berrettini, vir ‘n plek in die derde ronde. Die verdedigende kampioen, die derde gekeurde Spanjaard Carlos Alcaraz, speel teen Aleksandar Vukic van Australië. Uit ‘n Suid-Afrikaanse oogpunt sal die belangstelling in Lloyd Harris se wedstryd teen die 14de gekeurde Amerikaner, Ben Shelton, wees. Die tweede gekeurde Coco Gauff sal teen die Roemeen Anca Todoni in die vroue-afdeling te staan kom.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-48-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 23-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-102-dollar-15-sent. Die prys van goud is twee-duisend-345-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….