Nuus 11:00
BULLETIN 3 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Burgerlike organisasies is gekant teen Hlophe se benoeming tot die Regterlike Dienskommissie
# Cosatu in Gauteng kritiseer die DA oor sy mislukte samesprekings met die ANC
# En tennis: Die verdedigende Wimbledon-kampioen, Markéta Vondrousova, erken senuwees het haar onder gekry
# Ses burgerlike organisasies het die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, skriftelik in kennis gestel oor hul diepe kommer oor die afgedankte regter John Hlophe. Dit volg nadat die MK-party hom as een van sy parlementêre verteenwoordigers op die Regterlike Dienskommissie benoem het. Die organisasies – insluitend Freedom Under Law en die Ahmed Kathrada-stigting – sê die benoeming van ‘n persoon na die RDK deur dieselfde instelling wat hom aan growwe wangedrag skuldig bevind het, is geheel en al misplaas.
# Die onderwysaktivis, Hendrick Makaneta, het die Departement van Basiese Onderwys versoek om die graad 9-wiskunde-assesserings te hervorm. Hy stel voor leerders moet die geleentheid kry om twee eksamenvraestelle te skryf, soortgelyk aan graad 12-leerders. Makaneta voer aan die huidige enkelvraestel-formaat plaas onnodige werklas op leerders, wat lei tot swak prestasie en ‘n afname in die wiskunde-opname vir verdere onderwys:
# Cosatu in Gauteng is bekommerd oor die gebrek aan regering in die provinsie omdat die aankondiging van ‘n nuwe kabinet telkens uitgestel word. Die ANC en DA stamp koppe oor die samestelling van die provinsiale regering van eenheid. Die dooiepunt gaan hoofsaaklik oor die toekenning van portefeuljes, wat volgens die DA die wil van die kiesers moet weerspieël. Cosatu se woordvoerder, Amos Monyela, sê hulle is geïrriteerd oor die DA se arrogansie:
# Die Verenigde Nasies se Noodlenigingsagentskap vir Palestynse Vlugtelinge in die Nabye-Ooste waarsku dat 250-duisend mense na raming in Gaza ontwortel kan word. Dit volg te midde van die Israelse Weermag se opdrag vir ‘n massa-ontruiming van Palestyne uit Khan Younis in die suide van Gaza. Die Weermag beplan volgens berigte ‘n nuwe grond-aanslag op die gebied se tweede grootste stad. Die VN-agentskap sê dit sal nóg ‘n vernietigende slag wees vir humanitêre hulp in Gaza.
# Tennis: Wimbledon se verdedigende vroue-kampioen, Marketa Vondrousova, sê sy het gesukkel om haar senuwees te kalmeer toe sy in die eerste ronde uitgeskakel is. Die wêreld se nommer 83, Jessica Bouzas Maneiro van Spanje, het die 25-jarige Tsjeg 6-4, 6-2 verslaan vir haar eerste Grand Slam-oorwinning. Dis die eerste keer sedert 1994, toe Steffi Graf teen Lori McNeil verloor het, dat die verdedigende vrouekampioen in die eerste ronde uitgeskakel word. Vondrousova sê sy wil uit hierdie ervaring leer:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-55-sent teen die dollar, 19-rand-93-sent teen die euro en 23-rand-54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-945-dollar-29-sent. Die prys van goud is twee-duisend-336-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….