Nuus 09:00
BULLETIN 3 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Burgerlike organisasies is gekant teen Hlophe se benoeming tot die Regterlike Dienskommissie
# Die DA in Gauteng is bereid om verder met die ANC te onderhandel
# En Trump se vonnisoplegging in sy swyggeld-saak word uitgestel
# Ses burgerlike organisasies het die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, skriftelik in kennis gestel oor hul diepe kommer oor die beskuldigde regter John Hlophe. Dit volg nadat die MK-party Hlophe as een van sy parlementêre verteenwoordigers op die Regterlike Dienskommissie benoem is. Die organisasies – insluitend Freedom Under Law en die Ahmed Kathrada-stigting – sê die benoeming van ‘n persoon na die RDK deur dieselfde instelling wat hom aan growwe wangedrag skuldig bevind het, is geheel en al misplaas.
# NUMSA het Ford Suid-Afrika bedien met ‘n kennisgewing om te staak. Ongeveer drie-duisend werkers is ontevrede aangesien hulle bonusse nie betaal is nie. Die woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê Ford kon nie ‘n ooreenkoms met NUMSA bereik tydens die Junie-versoeningsgesprekke by die KVBA-kantore in Pretoria nie. Die betoging begin Donderdag in Pretoria, met werkers wat aangemoedig word om te verenig oor hul eise:
# Die DA sê hy kon nie daarin geslaag om ‘n ooreenkoms met die ANC in Gauteng te bereik nie. Premier Panyaza Lesufi sou Maandagaand sy nuwe kabinet aankondig, maar dit is uitgestel weens onderhandelinge oor posisies tussen die ANC en die DA wat ‘n dooiepunt bereik het. Die DA se federale voorsitter, Helen Zille, sê hulle is nie bereid om aan ‘n provinsiale regering van eenheid deel te neem waar die ANC steeds dink hy het ‘n meerderheid nie:
# Die gewese Amerikaanse president, Donald Trump, se vonnisoplegging in sy swyggeld-saak in New York is tot September uitgestel. Dit volg op Maandag se hooggeregshofbeslissing dat hy kwalifiseer vir algehele vrywaring van vervolging vir enige optrede tydens sy ampstermyn. Trump is die eerste Amerikaanse president wat suksesvol strafregtelik vervolg is toe ‘n jurie hom verlede maand skuldig bevind het aan al 34 klagte oor die vervalsing van dokumente om die uitslag van die 2016-presidentsverkiesing te beïnvloed. Hy sou aanvanklik reeds volgende Donderdag gevonnis word.
# Sokker: Nederland en Turkye pak mekaar in die kwarteindrondte van die Europese Kampioenskap in Duitsland. Die span van Ronald Koeman het met ‘n doel deur Cody Gakpo en twee deur Donyell Malen vir Roemenië drie-nul geklop om onder die laaste agt te eindig. Intussen het Merih Demiral twee doele vir Turkye aangeteken – waarvan een die vinnigste ooit in die uitklopfase van die toernooi – vir ‘n skokoorwinning oor Oostenryk. Turkye het in 2008 laas die kwarteindrondte gehaal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-59-sent teen die dollar, 19-rand-98-sent teen die euro en 23-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-808-dollar-44-sent. Die prys van goud is twee-duisend-333-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 86-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….