Nuus 08:00
BULLETIN 3 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Biden wens president Ramaphosa geluk met sy herverkiesing en die vorming van ‘n regering van nasionale eenheid
# Sibanye-Stillwater dank twee-duisend mense af tydens sy jongste herstrukturering
# En meer as ‘n 100 mense word doodgedruk deur die skare by ‘n godsdienstige geleentheid in Indië
Amerika se president Joe Biden het president Cyril Ramaphosa gelukgewens met sy herverkiesing en die suksesvolle samestelling van ʼn regering van nasionale eenheid. Die twee leiers het Dinsdagaand telefonies gesels. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê Biden het belowe Amerika sal nou met die sewende administrasie se regering saamwerk in belangrike areas soos ekonomiese groei, werkskepping, maatskaplike ontwikkeling en klimaatsverandering:
# Die Nasionale Unie van Mynwerkers glo die sukses van enige vorm van regering moet op patriotisme gebaseer wees. Dit volg nadat president Cyril Ramaphosa Sondag ʼn nuwe kabinet onder die regering van nasionale eenheid aangekondig het. NUM se woordvoerder, Luphert Chilwane, sê hulle sien uit na ʼn regering wat sekuriteit en stabiliteit bied deur werkskepping en voedselsekerheid:
# Die Mynmaatskappy, Sibanye-Stillwater, sê voortdurende herstrukturering het bedryfsvolhoubaarheid en winsgewendheid verseker, terwyl gedwonge afleggings tot die minimum beperk is. Volgens News24 het die jongste ronde van herstrukturering daartoe gelei dat twee-duisend werksgeleenthede in sy goudbedrywighede verminder is, insluitend vrywillige skeidingspakkette en oorplasings, wat die Suid-Afrikaanse arbeidsmag sedert vroeg verlede jaar met 14-persent verminder het. Raadpleging met belanghebbendes het gedwonge afleggings aansienlik beperk tot net agt-persent van werknemers wat geraak word en die onderneming se verbintenis tot volhoubare bedryfspraktyke te midde van die ekonomiese uitdagings bevestig.
# Minstens 116 mense, meestal vroue en kinders, is dood na ʼn stormloop by ʼn Hindoe-geleentheid in die noordelike staat, Uttar Pradesh, in Indië. Plaaslike beamptes skryf dit toe aan te veel mense op die perseel. Die organiseerders het volgens berigte ʼn permit gehad om vyf-duisend mense by die geleentheid, wat in ʼn tent gehou is, toe te laat. ʼn Skare van 15-duisend het egter opgedaag. Indië se eerste minister, Narendra Modi, sê die slagoffers se families sal vergoed word. ʼn Hoëvlak-komitee is aangewys om die voorval te ondersoek.
# Tennis: Die sewemalige kampioen, Novak Djokovic, is gemaklik deur na die tweede ronde by Wimbledon nadat hy die Tsjeggiese kwalifiseerder, Vit Kopriva, met 6-1, 6-2, 6-2 afgeransel het. Dis die Serwiër se eerste wedstryd ná sy knie-operasie. Andrey Rublev van Rusland is die hoogste gekeurde speler wat in die mans-enkelspel uitgeval het nadat die Argentyn, Francisco Comesana, hom met 6-4, 5-7, 6-2, 7-6 verslaan het. Die Duitser, Alexander Zverev, en die Deen Holger Rune is ook deur na die tweede ronde. Djokovic sê hy is tevrede met sy spel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-59-sent teen die dollar, 19-rand-98-sent teen die euro en 23-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-825-dollar-56-sent. Die prys van goud is twee-duisend-329-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 86-dollar-69-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….